Found at: http://www.rallystar.co.za/article/articleprint/1978/-1/68/

Ceres Delta Tydren - 25 Oktober 2003


Home RALLYSTAR ARTICLES Motorsport News Rally News

Die groot opwinding rondom die insluiting van Serge Damseaux en Sarel van der Merwe is op ys gesit nadat dit gou duidelik geword het dat die pragtige gebaar van Fernando Rueda nie deur gevoer kan word nie. Kontraktueel is dit vir Serge onmoontlik om agter die stuur van die Mitsubishi in te skuif.

Toyota betaal sy gewigtige salaris en daar is geen manier dat hulle Mitsubishi gratis publisiteit gaan aanbied nie.

Serge is egter heeltemaal te vinde vir die konsep en nou sal iemand net Toyota moet oortuig dat die A8 Run X se jaar in Ceres afgesluit moet word.

Die Corolla is nie meer prioriteit in Toyota se bemarking nie en gevolglik is die A6 Corolla ook nie meer ‘n opsie vir SA se nommer een tydrenner nie. Plaaslik sal niemand kla as Serge en Sarel hul twintig kampioenskappe saam snoer in die Run X nie so, wie weet. Ongelukkig sal dit steeds nie vir Fernando terug sit in die Lancer nie want hy is besig om te kwalifiseer vir sy helikopter lisensie en moet vlieg op hierdie dag.

Enzo Kuun en Guy Hodgson in aksie.
Nog is die drama nie oor nie want intussen het Enzo Kuun en Guy Hodgson besluit dat hul deel wil vorm van hierdie skouspel en die klas A7 Sasol VW Polo Playa is amptelik ingeskryf vir die byeenkoms. Enzo en Guy het natuurlik pas die Verre Noord tydren gewen in hul A8 Sasol Golf GTi en hul kan beslis weer so maak in die Kaap.

En nog steeds is daar drama want skaars het Berto Mostert sy terugkeer aangekondig met die Gp N4 Mitsubishi Lancer Evo VI 4x4 Turbo of hy mag dalk nie meer kan ry nie. Hy het vanoggend met sy hond gespeel by die huis en op volle vaart deur ‘n glasdeur geval met ‘n paar slegte beserings as gevolg. Die glasdeur het ‘n stuk uit sy neus gesny wat gevul moes word met ‘n aanvulling van agter sy oor en asof dit nie ongemaklik genoeg is nie het hy met sy sitvlak op ‘n stuk gebreekte glas geland en om te sê dat sit ongemaklik is is dalk nie baie akkuraat nie. Berto egter steeds oortuig dat hy wel volgende Saterdag sy debuut sal maak in die Lancer Evo VI.

Die Sabre Paints VW Golf CSL 1600 van Charl Strydom en Sakkie Bosman sal egter beslis nie teenwoordig wees nie want hul het dit klaarblyklik taamlik ordentlik gerol op die Verre Noord Tydren.

Nou ja, wat kan nog gebeur voor die tydren begin ?

Receivers email:

*

Your email:

*



| Back to normal page view | Send this article to a friend |