Found at: http://www.rallystar.co.za/article/articleprint/2484/-1/196/

Killarney Streekrenne 31 Julie 2004


Home RALLYSTAR ARTICLES Motorsport News Racing News

Daar is ‘n gesegde wat lees dat die Kaap baie goed vergelyk met ‘n pasgebore kindjie deurdat dit óf vol wind is óf nat is. Wel, dié slag was dit laasgenoemde want dit was nat in Wolseley, nat in Langebaan en nou was dit ook nat op Killarney. Hitte was natuurlik ook iets wat net langs ‘n verwarmer beskikbaar was en die kombinasie van nat en koud het enige renband se waarde totaal geneutraliseer. Niemand was gretig om daardie versneller behoorlik te kielie nie want dit was geen kuns om selfs op die pylvakke te tol nie!

Powersport & Klassieke Motorfietse 2x8 rondtes

Twintig motorfietse het die toestande trotseer en dit was nie veel van ‘n verrassing om Donovan le Cok se Honda eerste op die rooster op te merk nie. Wat wel verbasend was was die feit dat beide motorfiets en jaer steeds ongeskonde was want meer as twee sekondes het die geel Honda 40 geskei van die veteraan, Stretch Henrick op sy 1981 Eurobike Ducati Pantah.

Hoewel Donovan oudergewoonte meer langs as op sy geel Honda gejaag het was dit hierdie keer Inigo van Niekerk wat die eerste wedren gewen het op sy Powersport Yamaha FZR400 met Lance Jonas tweede op sy Honda NC30 en Hilton Redelinghuys derde op sy Honda VFR400. Trevor Westman neem die vierde posisie in met sy Honda NC30 gevolg deur Stretch Henrick op sy Mille.

Die tweede wedren word gewen deur Trevor Westman met Hilton Redelinghuys tweede en Lance Jonas derde. Inigo van Niekerk vierde met Donovan le Cok vyfde en David Bolding sesde met sy pragtige Suzuki Katana 1100. Algeheel was die onderskeie klaswenners vir die dag soos volg.

Klas D word gewen deur Lance Jonas met Shaun Crous tweede en Matthew Willett derde en Donovan le Cok vierde. Marco Sanders wen die klassieke afdeling op sy 1974 Ducati 750SS met Guy Moat tweede op sy 1956 BSAGoldstar met Surnam in derde posisie.

Hilton redelinghuys wen die Powersport afdeling met Lance Jonas tweede, Inigo van Niekerk derde en Trevor Westman vierde. In die historiese afdeling was dit Stretch Henrick eerste op die Pantah met George Bence tweede op sy 1982 Ducati Pantah 600 en Fred Lewis derde op sy 1982 Yamaha RD350.

Formula Libre 2x8 rondtes

Slegs twaalf motors het dit op die baan gewaag in die gliberige toestande en hul goed van hul taak gekwyt. Reg Anderson het verras deur sy ouer DAW FGTi eerste op die rooster te plaas met Roy Phillips tweede in sy FF Ray 83F.

Ernst Viljoen en Ashfaak Dawood
Dit was egter die twee FGTi Swift renmotors van onderskeidelik Ernst Viljoen Jnr (Budweiser Beer) en Ashfaak Dawood (Auto 56) wat mekaar van vlag tot vlag die stryd aangesê het en Reg Anderson moes met ‘n steeds goeie derde plek tevrede wees.

Anton Slabbert Drifting Nissan SX200 Turbo
Arnold Lambert het sy debuut in die kategorie gemaak met ‘n klas B “Rothmans” Swift FGTi. Die pragtige kleurskema is ontleen vanaf die F1 Williams span en deur Frans Viviers gerealiseer en die motor vertoon werklik netjies. Roy Phillips uiteindelik vyfde en Chris danks sesde in sy Lantis FVee.
Frans Viviers by Arnold Lambert




Die tweede ren was werklik aanskoulik met die twee GTi renmotors behoorlik in mekaar se hare en die rondtetye het aangedui dat dit nie speel speel was nie. Ernst eerste in die Budweiser Swift met die Auto 56 inskrywing van Ashfaak Dawood tweede en Reg Anderson derde in die DAW. As hul bou op hierdie standaard kan dit enkelsitplek renne weer nuwe kleur gee op plaaslike front. Arnold Lambert jaag weer netjies onderweg na vierde in die “Rothmans” Swift met Doug MacDonald vyfde in sy Rhema FVee en Louie Basson sesde. Algeheel was dit Ernst Viljoen Jnr eerste in klas A met Ashfaak Dawod tweede en Reg Anderson derde. In klas B het Arnold Lambert voor Steven Schemel geeindig en in klas C was dit Chris Danks eerste met Roy Phillips tweede en Chris Botha derde.

Sportmotors 2 x 8 rondtes

Slegs agt motors voltooi die kwalifiserende oefensessie met Peter Little oudergewoonte eerste op die rooster in sy Pool Services Lotus 7 wankel. Keith Schenck tweede in die Lola T212 sportmotor replika.
Peter Little


Toestande verbeter baie teen die tyd wat die motors die eerste uitdun aandurf en met tye sowat twintig sekondes vinniger verras Grant Geyer deur die geruite vlag eerste te bereik in sy pers “grootbek” Lotus 7 wankel. Duidelik het daardie drukvlerk tog voordele want Peter Little was eenvoudig nie in staat daartoe om sy sortgelyke motor lank in ‘n reguit lyn te bestuur nie. Selfs die kinkel voor die kuipe het skrikwekkend gelyk en ek was nie eens in die motor nie. Mike Coram en Jannie Matthysen onderskeidelik derde en vierde met hul Lotus 7 replikas. Louis de Jager in ‘n bestendige vyfde plek met die rooi Alfa Romeo aangedrewe Lola T212 replika en Keith Schenck sesde in sy geel weergawe.

Die tweede uitdun word op ‘n droë baan beslis en Peter Little jaag foutloos onderweg na ‘n oortuigende oorwinning met Mike Coram tweede. Grant geyer beindruk deur steeds derde te eindig nadat hy vroeg baie tyd verloor het en Jannie Mathysen neem die vierde posisie in . Ray Farnham maak dit nog ‘n Lotus 7 in die vyfde plek met Louis de Jager sesde.

Algeheel wen Peter Little klas A met Mike Coram tweede en Grant Geyer derde. Jannie Matthysen wen klas B met Louis de Jager tweede en Ray Farnham derde. Keith Schenck wen klas C met Dave Alexander tweede en H.D.Rossouw wen klas D.

Powerflow GTi Challenge 2x8 rondtes

Met onweer steeds teenwoordig verras Mark Hope deur sy VW Polo Classic eerste op die rooster te plaas met Andries van Eeden tweede in sy klas B Golf.

Gerrit Coetzee
Die verrassing van die dag was egter die wyse waarop Mike Nathan sy pad oopgeveg het vanaf sewende op die rooster tot die eerste plek algeheel. Gerrit Coetzee ongetwyfeld bewus van die feit dat Mike in klas X jaag en gevolglik tevrede met die tweede plek oor die lyn in die Tiger Paneelkloppers VW Golf Chico, maar dit was aanskoulik om die twee op die baan dop te hou. Ongelukkig het Richard Laughton (VW Polo Classic) en Stefanie Aukett (VW Golf CTi) mekaar in Sabat draai beter leer ken en moes die rooi vlag benut word. Dar was egter nie verdere drama vir die voorlopers nie en Andries van Eeden het self indruk gemaak deur die derde plek in te neem. Quinton Velder plaas die sy blou Golf vierde met Brendan lennox vyfde in die VW Polo Classic en Pieter Gouws sesde in sy Parowlec VW Jetta.

Mike Nathan maak dit twee in ‘n ry met Gerrit Coetzee weereens naby genoeg om as skaduwee te kwalifiseer en dit is duidelik dat die Teazers Polo voortaan ‘n vlieg in die salf gaan wes vir die groen APC Chico. Pieter Gouws behaal ‘n puik derde plek in die Parowlec Jetta met Andries van Eeden vierde, Brendan Lennox vyfde en Quinton Velder sesde. Algeheel wen Gerrit Coetzee klas A met Pieter Gouws tweede, Brendan Lennox derde, Quinton Velder vierde, Ashley Wharton vyfde en Howard Daniels sesde. Klas B sien Andries van Eeden eerste met Peet van der Walt tweede in die Golfwagon CTi en Gary Rodkin derde in sy Golf. John Kirsten wen klas C na ‘n verbete stryd met Gerard Nefdt, mindr as 0.2 sekondes tussen die twee na sestien rondtes! Stuart Porter derde in sy VW Fox.

Honda Cape Town Superfietse 2x8 rondtes

John Oliver op sy Suzuki GSXR 750
Met slegs twaalf fietse op die rooster het Gareth Agnew na ‘n sekere wenner gelyk op die nasionale kampioenskap Honda F4 600 met Quintin Ebden die beste van die res op sy Honda CBR1000. In die eerste uitdun was daar egter ‘n aangename driestryd om die eerste plek met John Oliver uiteindelik eerste op sy Suzuki GSXR 750 met Ebden tweede en Agnew derde.

Wayne Fritz Auto Atlantic Aprilia
Beter bekend as ‘n man wat ongelooflike toertjies kan uitvoer op die rug van ‘n motorfiets het Ian Abrahams ook indruk gemaak deur die vierde plek in te neem op sy Kilarney Motorcycles Suzuki GSXR. Martin van Staden plaas sy Yamaha R6 vyfde met MJ Maritz sesde op sy Kawasaki ZX-6R.
Martin van Staden Yamaha R6


Gareth Agnew en John Oliver maak die pap behoorlik dik aan in die tweede uitdun en volg mekaar slegs 0.366 sekondes verwyder na8 rondtes. Ian Abrahams derde met Martin van Staden vierde en Roland Wingeier vyfde. Quinten Ebden ongelukkig om nie die tweede uitdun mee te maak nadat daar ontdek is dat sy Honda se koppakstuk geblaas het. Algeheel het John Oliver klas A gewen met Gareth Agnew tweede en Ian Abrahams derde. Klas B gaan aan MJ Maritz met Wayne Arendse tweede en Gustav Roth derde. Wayne Fritz wen klas C met Stefan Nel tweede en Norman McFadden derde.
MJ Maritz Kawasaki ZX-6R


Warwick Supercars 2x8 rondtes

Deon Joubert
Deon Joubert was in vasberade luim en het die eerste plek op die rooster geeien met Richard Schreuder tweede vinnigste. Deon jaag ook feitlik onverhinderd na die eerste plek in beide wedrenne. In die eerste wedren was Marcel Angel tweede met Jess Huggett derde en Richard Schreuder vierde. In die tweede was dit Jess Hugett tweede, Divan Wentzel derde en Neil Hawkins vierde.


Richard Schreuder het homself van die baan gehelp in die kinkel tussen Engen en Shell draaie. Deon Joubert domineer die Goue klas met Jess Huggett tweede en Divan Wentzel derde. In die Silwer klas is dit Kobus Smit voor Paul Krynauw en Christoff Smit.

Barnett Autospares Clubmans 2x8 rondtes

Paul Beachy-Head VW Jetta
Sewe en veertig motors durf die onweer aan tydens die kwalifiserende oefensessie en dit is Gavin Cerff wat verras deur die Spur Golf eerste op die rooster te plaas met die pragtige VW Jetta van Paul Beachy-Head tweede vinnigste. Beachy-Head jaag egter baie goed om die eerste been algeheel te wen met ‘n vasberade Brett Roach tweed in die haastige Nissan Sentra 20 STi. Stuart Gatland tevrede met ‘n rustige derde plek en Ernst Leite vierde na ‘n goeie vertoning. Gavin cerff sak terug na vyfde met Barry Williams se Nissan Primera sesde en Freddy Webb sewende in sy Golf.

In die tweede uitdun is dit Brett Roach wat Paul Beachy-Head klop aan die voorpunt met gatland weerens derde en Barry Williams nou vierde. Paul Winter se Golf beindruk met vyfde plek en Ernest Leite behaal nog ‘n goeie algehele posisie met sesde algeheel. In klas B is dit Beachy-Head wat Gatland en Leite klop terwyl Cerff klas C wen met Williams tweede en Webb derde. In klas D is dit Mark Smurf Smith wat Dave Beecroft en Clifford George klop. In klas E wen Anton Jacobs vir Wayne Daykin en Francis Murray terwyl Andrew Travers klas F wen voor André Johnson en AJ Theunissen.

Amo Deus Klasieke Renne 2x8 rondtes

Derek van Blerk se monster Mustang was terug op 16” renbande, maar onweer en ‘n frustrerende elektriese probleem het temperature in die kamp hoog gehou vir al die verkeerde redes. Peter Gough het ‘n aangename probleem gehad want hy moes besluit of die 3.7 Cars Unlimited Porsche 911 of die Cars Unlimited Alfa Romeo Sprint sy guns sal wen. Die Porsche het nou ‘n breër spoor getrap, maar die Alfa se hantering in die nat was deurslaggewend. Dave Köpke was terug in die Power Conversion R100 Mazda maar moes die roes afskud in beide bestuurder en motor na ‘n lang afwesigheid.
Dave Köpke (Mazda) and Keith Rose (Porsche)


Ongelukkig was daar geen teken van die Forbes Corvette of die “Little Chev” van Anton Rollino nie (15” renbande nie maklik bekombar nie en om vellings in hierdie grootte te vervang is nogal duur), maar die wit Porsche 911 van Keith Rose was slaggereed en die mand skrik nie vir weer nie. Dat dit egter baie nat was het geblyk uit die feit dat Brian Smith eerste op die rooster ingeneem het in die pragtige Alfa Berlina 2.0 met Mike van der Poel tweede in die VW Scirocco.

Klassieke renne en die “Fine Cars” kategorie wen met elke byeenkoms meer veld by selfs die jonger motorsport aanhangers want hier speel tegnologie nie die dominerende rol nie, die “moer” agter die stuurwiel is hier steeds die beslissende factor. Boonop verskil die motors drasties van mekaar in hantering, klank en voorkoms. Die meeste is agterwiel aangedrewe, lewer ‘n gesonde werkverrigting wat nie vreeslik doeltreffend op die baan geplaas word nie (want meeste word gery soos dit jare terug naam gemaak het) en selfs identiese modelle klink anders want elke individu berei sy motor voor na eie sak en smaak.

Dave Köpke en Keith Rose tree mekaar van meet af aan in die eerste uitdun en die wit Porsche imponeer deur die Power Conversions R100 Mazda aan die buitekant van Vodacom draai aan te durf, maar ongelukkig word die Mazda met ‘n gebreekte stuur na vier rondtes uitgedwing en Keith neem ‘n welverdiende oorwinning. Trevor Momberg buit die droër as verwagte omstandighede goed uit deur die Interceptor Ford Capri V6 verby die altyd indrukwekkende Cars Unlimited Alfa Romeo van Peter Gough te wurg en laasgenoemde beindruk soos altyd deur die minder kragtige Alfa altyd binne trefafstand te hou. Kan nie wag dat hy sy “nuwe” GTA replika nader trek nie, want die groot kanonne gaan swaar leef !

Herman Scholtz Bellevue Farms Mazda Capella Rotary
Brian Smith jaag bestendig tot vierde plek in die puik voorbereide Berlina met Herman Scholtz vyfde in sy terugkeer ren agter die stuur van wat baie vermoed die ex-Aloes Motors (Hepburn) Mazda Capella is. Puik gerestoureer deur Power Conversions is die motor nou geskoei in die pragtige blou van Bellevue Farms en selfs vinniger. Die Mustang was ongelooflik vinnig in ‘n reguit lyn, mar het weereens onverklaarbaar uitgesny tydens die wedren terwyl die onbeskof vinnige Ford Escort Sport van Louis Powell met gebreekte voorvering halt geroep het.

Die tweede uitdun was steeds bitter koud en het bykans kopligte vereis, maar dit was ten minste droog en dit was Dave Köpke wat sy ore platgetrek het en in die niet verdwyn het met die Power Conversions Mazda R100. Keith Rose skielik net nie in dieselfde wedren met die wit Porsche nie. Peter Gough gebruik al daardie jarelange ervaring om die Alfa voor die Ford Capri van Trevor Momberg te laat eindig. Martin Richards het gelukkiger gelyk in die droë omstandighede en eindig vyfde in die “Chicken Plucker” Nissan 1600 SSSmet die skouspelagtige Ford escort van Robie Jeptha sesde.

Ai, waar is die dae toe die toeskouers letterlik uitgeken kon word as die Alfa, Ford, Mazda en later BMW ondersteuners? Ten minste geld een reël nog tot vandag, ‘n Ford eindig nie voor ‘n Alfa nie!
Anton Slabbert Drifting Nissan SX200 Turbo


Wat selfs nog beter was was die ondersteuning wat sekere renjaers geniet het. Jy was óf mal oor Sarel van der Merwe of jy het sy teenwoordigheid gehaat! Tony Viana, Abel D’Oliveira, Nicolo Bianco, Willie Hepburn, Ben Morgenrood en selfs George Santana het elkeen hul eie aanhangers gehad en die skare kon met hulle identifiseer. Dieselfde het gegeld met motorfietse met name soos die Petersen broers, Rodney Gray en Les van Breda net enkeles was op Honda, Yamaha, Suzuki, Ducati, Kawasaki ens.

Johnny de Beer
In die onderskeie klasse was die uitslag Keith Rose eerste in klas A met Dave Köpke tweede en Derek van Blerk derde. In klas B was Peter Gough en die Alfa eerste met Trevor Momberg tweede in die Ford en Martin Richards derde in die Datsun. Robbie Jeptha wen klas C met Mike van der Poel tweede en Derrick Truscott derde in sy Alfa Romeo. Tristam Wilson wen klas D in sy Alfasud met Keith Hosking tweede in sy Berlina en Peter van der Poel derde in sy Opel. Keith Andrews wen klas E in sy Mazda Capella met Sean le Riche tweede in sy Alfasud en Johan Rheeder derde in sy Mini.

Ongelukkig was Herman Scholtz nie teenwoordig in die tweede uitdun nie. Hartkwale het hom geruime tyd uit die sport gehou en na afloop van die eerste ren het hy weer tekens van hartkwale ondervind. Ons wens home ‘n spoedige herstel toe en vertrou dat ons hom nog lank betrokke sal sien in die sport.
Jason Joshua

Arnold Lambert 1st Class B

Receivers email:

*

Your email:

*



| Back to normal page view | Send this article to a friend |