Rally Events Photos Competition

Killarney - 3 Mei 2003
author: Patrick Vermaak
Windstil, maar weereens nat het gesorg vir nog ‘n glibberige streek byeenkoms op Killarney. Goeie beplanning sorg egter dat die program vervroeg word en die volle program word op tyd afgehandel. Die teenwoordigheid van huidige WP tydrenkampioen, Fernando Rueda, se Mitsubishi Lancer Evo Vi en VII tydrenmotors het baie reaksie uitgelok en dit is miskien tyd om weer ‘n wedren vir tydrenmotors te oorweeg?

Fast Parts GTi Uitdaging

Gerrit Coetzee blink weereens uit op die gladde oppervlakte en die groen nommer dertien Chico 1800 stel die vinnigste rondtetyd tydens die kwalifiserende oefening op met die Community Cars VW Polo van Richard Laughton tweede vinnigste.

Wedren een vind op ‘n sopnat renbaan plaas en verskeie renjaers word onkant betrap deurdat verrigtinge vervroeg is. Brett Roach wen die eerste uitdun in sy VW polo met die indrukwekkende Gerrit Coetzee ‘n goeie tweede en derde plek word ingenem deur die kragtige silwer MkI KSD VW Golf van Bessie Bester. Richard Laughton behaal ‘n effe teleurstellende vierde plek met Wanie Phillips vyfde in sy SAC VW Golf II GTi 2.0 16klep en die top ses word afgerond deur Peet van der Walt in sy klas C U-Store-It VW Golf Chico.

Justin Bennets wen klas B en neem die sewende posisie in met Dewald Lubbe (klas B) agtste, Paul Medell (klas C) negende en Chad Rhoda (klas B) tiende. George Economides het met sy reserwe motor meegeding, maar weereens het sy aanslag slegs vyf rondtes geduur terwyl Gerard Nefdt sy klas C Golf op elke denkbare plek laat tol het as gevolg van die verkeerde bande.

Agttien motors spring weg in die tweede uitdun en ondanks die feit dat dit nou droog was slaag Justin Bennets daarin om ‘n nuwe lyn deur Cell C te ontwikkel en skaars was die klas B Golf weer onder beheer of Chad Rhoda tol skouspelagtig in die kinkel tussen Engen en Shell draaie. Bessie Bester neem onder luide toejuiging van “kollegas” die voortou en neem ‘n baie goeie eerste plek in met Brett Roach beperk tot tweede en die lastige Gerrit Coetzee in ‘n goeie derde. Wanie Phillips toon weer dat sy motor hou van droë teer en behaal ‘n goeie vierde posisie. Richard Laughton eindig vyfde en Pieter Gouws sluit ‘n stil dag af met sesde plek in die Jetta. Justin bennets wen steeds klas B ondanks sy tolslag en Peet van der Walt eien klas C.Algeheel lees die uitslag in klas A Brett Roach, Gerrit Coetzee,Bessie Bester, klas B is dit Justin Bennets, Dewald Lubbe, Stephanie Aukett en in klas C Peet van der Walt, Paul Medell en Gerard Nefdt.

Formula Libre

Weer ‘n billike inskrywing en moedige poging om die wedrenne oortuigend te laat lyk, maar betroubaarheid en ‘n paar tolslae benadeel die uitslag waar Ebrahim Levy weereens sonder enige tenstand kon wen soos hy verkies in die Red Bull Swift Formule GTi renmotor. Nieyaas Modack behaal die tweede posisie in wedren een nadat beide die DAW GTi van Mark Grinnell en die FF van Ashfaak Dawood van die ban getol het. Anwar Levy en Steven Schemel onderskeidelik derde en vierde in hul FF renmotors. Reg Anderson en Lee Levy vyfde en sesde in hul GTi renmotors.Uitdun twee effe droër en dit is Reg Anderson wat tweede eindig met Mark Grinnell derde en Nieyaas Modack vierde. Ashfaak Dawood vyfde met Anwar Levy sesde. Algeheel was die onderskeie klaswenners : Ebrahim Levy wen klas A, Reg Anderson wen klas B en Anwar Levy wen klas C.

ASA Auto Spares Clubmans

Vyf en veertig spanne durf die eerste uitdun aan in nat toestande met John Craig weereens koning van die kategorie in sy baie haastige Bell Motors silwer Nissan Sentra Sti 2.0. Die soortgelyke DTM Helderberg wit Nissan Sentra Sti 2.0 van Wayne Wilson neem ‘n puik tweede plek in met die Payne en Schietekat klas X VW Golf van Brian Maunder in ‘n goeie derde posisie. Bennie Lodewyk plaas sy KSD VW Golf vierde met die Mechanical Cooling VW Jetta van Stuart Gatland vyfde en die helderkleurige Nissan Skyline 2.8
GTX van Mervin Gibbons sesde.

Greg Walker wen klas C in sy Golf terwyl Gavin Cerff klas D eien in sy Spur Golf, klas E word gewen deur Adrian Mossop in sy netjiese Ford Escort en klas F word gewen deur die pragtige Ford Fiesta van Marius Weber. Paul Beachy-Head het sy pragtige nuwe VW Jetta 3 na die opwarmingsrondte onttrek as gevolg van die nat toestande en die feit dat die motor nog steeds min blootstelling geniet het. Die baie haastige klas B Hyperformance Opel Kadett Superboss van John de beer vernietig nog ‘n ratkas na ‘n belowende begin terwyl Anton Jacobs sy groot Cortina as ploeg aangewend het in Ceel C draai.

John Craig en Wayne Wilson tree mekaar aan vir die droër tweede uitdun en Wilson verloor beheer onder remme vir Ceel C draai. Die wit Sentra draai dwars en die ongelukkige Craig word ‘n passasier in sy eie motor. Minimale skade sien die twee vinnig terug op die baan, maar die insident verskaf aan Brian Maunder ‘n maklike eerste plek in die Payne en Schietekat Golf met Stuart Gatland in ‘n puik tweede plek en die haastige Reno Golf van Greig Edwards derde. John Craig herstel tot ‘n puik vierde plek met Bennie Lodewyk vyfde en Wayne Wilson sesde. Die twee Nissan inskrwyings duidelik tans die klas van die veld en dit wil lyk asof dit VW gaan wees wat hul die stryd gaan aansê. Klaswenners in die tweede uitdun was Greg Walker in klas C, Dave Beecroft klas D, Leon de Wet klas E en Jacques Arndt klas F.

Algeheel was die onderskeie klaswenners John Craig (Bell Motors Nissan Sentra Sti 2.0) klas A, Stuart Gatland (Mechanical Cooling VW Jetta) klas B, Greg Walker (VW Golf GTi) klas C, Dave Beecroft (Nissan Sentra Sti 2.0) klas D, Leon de Wet (VW Polo Cup) klas E, Jacques Arndt (Exclusive Beds Rover SDi) klas F en Brian Maunder (Payne & Schietekat VW Golf GTi) klas X.

Suzuki South Motorfietse Klasse A,B,C

Die teenwoordigheid van die amptelike Autopage Yamaha renspan met Russel Wood en Greg Dreyer in die saal het baie verwagtinge geskep vir die motorfiets aksie en met die eerste uitdun op ‘n sopnat renbaan was daar heelwat op die spel. Martin van Staden was egter slaggereed vir die nat toestande en met die regte bande onder sy Yamaha R6 600 het hy van vlag tot vlag eenvoudig in die niet verdwyn om gemaklik te wen. Russel Wood neem die tweede plek in na ‘n stryd met derde geplaasde Robert Cragg en spanmaat Greg Dreyer. Dino de Wet ‘n rustige vyfde op die normaalweg dominerende Linex Yamaha. Stretch Hendrick sesde op die pragtige geel Eurobike Aprilia. Uwe Schmidt eerste in klas B met sy GSXR600 Suzuki en Gareth Agnew eerste in klas C met sy Honda VFFR 400.

Wedren twee was droog en Martin van Staden kon bloot net in kontak bly met die voorste groep van vyf om sy algehele oorwinning te verseker. Russel Wood moet egter hard werk om die vasberade Robert Cragg se aanslag af te weer en die Mitsubishi Suzuki GSXR 600 nem ‘n goeie tweede plek in met Greg Dreyer derde op die tweede Autopage Yamaha inskrywings. Dino de Wet bly in sig met ‘n goeie vierde en Martin van Staden teken ‘n rustige vyfde aan. Quiten Ebden sesde op sy Suzuki GSXR 600. Uwe Schmidt en Gareth Agnew weereens onderskeidelik eerste in klasse B en C.

Algeheel was die uitslag Martin van Staden eerste algeheel en eerste in klas A, Uwe Schmidt eerste in klas B en Gareth Agnew eerste in klas C.

Warwick Supercars

Nat toestande veroorsaak weer tweespalt in die gewilde reeks en verdedigende kampioen, Richard Schreuder, Wally Dolinschek en Marcel Angel besluit om nie aan die eerste uitdun deel te neem nie. Hul afwesigheid word egter nie eens opgemerk nie want daar heers ‘n verbete stryd tusen die Cell C inskrywing van Deon Joubert en die Mikes Motors inskrywing van Kosie Swanepoel. Met tye jaag die twee opponente sys aan sy vir die volle lengte van die baan en dit is Swanepoel wat sy terugkeer tot die formule vier met ‘n soet oorwinning. Joubert tweede en ‘n begeesterde Neil Hawkins derde in sy André Groenewald Motors inskrywing. Dave Hawkins volg sy seun tuis in die Autopro inskrywing met Richard Weggelaar vyfde en die jong Divan Wentzel sesde in die Barnets inskrywing. Jurie Swart die rekord houer vir die meeste tolslae in hierdie uitdun.


Weer is die baan droog in die tweede uitdun en dit is ‘n vasberade Deon Joubert wat alles in die stryd werp vir ‘n oortuigende oorwinning. Die tweestryd tussen Kosie Swanepoel en Neil Hawkins sorg egter vir die
meeste opwinding en die posisie word eers in die finale draai beslis toe Hawkins die agterstewe van Swanepoel se motor benut het as rem. Kosie was egter voorbereid en behou die tweede plek tot op die lyn. Marcel Angel neem ‘n goeie vierde plek in met Richard Weggelaar vyfde en Dave Hawkins sesde. Wally Dolinschek, Marcel Angel en Richard Schreuder mag dalk nog ernstig berou oor die punte wat hul in die eerste uitdun prysgegee het .

Trafalgar Property Services Klassieke Renmotors
Die kragtige “Little Chev” V8 Can Am van Anton Rollino moet alles in die stryd werp om die geel Destiny Seating Porsche Carrera 3,2 RS van Rudi Patoir om die geruite vlag te klop, maar dit was die skouspelagtige klas B Renault R8 Gordini van Ashley Ellis wat die meeste aandag getrek het in derde plek. Die blou motor werklik indrukwekkend op die nat baan. Clive Spolander plaas die legendariese Datsun 160Z vierde met Garth Gaenssler vyfde in sy klas B Alfa Romeo Bertone Sprint en Chris Carolin sesde in sy klas C Ford Escort. Arnold Lambert wen klas D in sy Ford Anglia 1600 met Johan Rheeder eerste in klas E met sy Morris Mini en Tristan Wilson wen klas F in sy Alfasud 1500.

Die tweede uitdun weereens droog en die Can Am slaag met rokende bande daarin om weer voor die geel Porsche verby die geruite vlag te jaag. Brian Smith plaas die pragtige klas B Alfa Romeo Berlina 2.0 tweede met Ashley Ellis vierde in die giftige R8. Garth Gaenssler beklee vyfde plek met Fred Phillips sesde in die blou 2.7 Porsche Carrera RS. Robbie Jephta wen klas C in sy Ford Escort met Arnold Lambert eerste in klas D, Sean Evans eerste in klas E met sy Alfasud 1500 en Tristan Wilson wen klas F in sy Alfasud 1500.

Klaswenners algeheel was Anton Rollino klas A, Ashley Ellis klas B, Chris Carolin klas C, Arnold Lambert klas D, Johan Rheeder klas E en Tristan Wilson klas F.

Suzuki South Motorfietse Klasse D/PS/X/Klassiek
Donovan le Cok wen die eerste uitdun om te vergoed vir sy val in Cell C tydens die vorige byeenkoms en die Honda VFR NC30 word gevolg deur die Honda VFR 400 van Gareth Agnew na ‘n aanskoulike tweestryd. Jacques van der Merwe derde op die Aprilia 250 en Cindy Brown ‘n indrukwekkende vierde algeheel op die klas D Ducati 748R. Die tweede uitdun word gewen deur John Kirsten op die blitsige Honda VFR400 met Donovan Rodgers tweede op sy Honda NSR 250 nadat Donovan le Cok weer ‘n plaas aangekoop het in Vodacom draai.

Klaswenners algeheel was Ashley Baud klas CS Ducati Pantah, Cindy Brown klas D Ducati 748R, Derek Baker klas PS Honda NC30 400, David Bolding klas VS Suzuki Katana 1100 en Hilton Redelinghuys klas X Honda VFR 400.

Sportmotors

Reën sorg dat verskeie van hierdie gesogte speelgoed die eerste uitdun in die kuipe agterbly en dit is die ou hardebaard Peter Little wat sorg dat die Poolside Services FvH7 maklik wen met Louis de Jager se pragtige Lola T210 replika tweede. Johann Wakters neem ‘n gewilde derde plek in met sy GSM Dart en hy word gevolg deur die klas C FvH7 van Ray Farnham, dieBirken 7 van H.D.Rossouw en die Elf 23 van Eric Salomon.

Die tweede uitdun sorg vir ‘n aanskoulike tweestryd tussen die H.D.Rossouw Birken 7 en die GSM Dart van Johann Walters. Hierdie tweestryd een van die dag se min hoogtepunte. Little wen weer maklik met de Jager tweede Salomon derde en Walters ‘n kortkop voor Rossouw. Die algehele klaswenners Little, de Jager en Rossouw.


Patrick Vermaak







      Members



      Site features
   Online discussion forums
   TV shows
   RallyStar prizes
   Photo galleries
   Motorsport calendar



Copyright © 2003 - RallyStar.co.za
All Rights Reserved