GINIEL DE VILLIERS WEN MAROKKO-VELDTYDREN
author: Nissan Motorsport Release
|
|
Giniel de Villiers wenner van die 2003 Marokko Veldtydren
|
Giniel de Villiers het die vierde Marokko-veldtydren, die vierde ronde van die FIA-veldtydren-wêreldbekerreeks wat gister in Marrakesh geëindig het, agter die stuur van ’n Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody-bakkie gewen. Hy was met dié vertoning die eerste Suid-Afrikaner tot nog toe wat ’n internasionale veldtydren-byeenkoms gewen het.
Die Suid-Afrikaanse produksievoertuig-veldrenkampioen van 2001 en sy Sweedse navigator, Tina Thorner, het die vyfdaagse byeenkoms oor 1 718 km in 15 uur 38 minute en ses sekondes – ’n hele 42 minute 48 sekondes voor Carlos Sousa van Portugal in sy Mitsubishi Pajero – voltooi. Jose Maria Servia van Spanje was 34 minute 10 sekondes verder agter in die derde posisie in ’n Schlesser-Ford-duinebesie.
De Villiers het in die amptelike Nissan-fabriekspan gejaag in maar net sy tweede internasionale veldtydren ná sy uitstekende vertoning in die 2003-Dakar-veldtydren toe hy ’n merkwaardige vyfde posisie algeheel agter die stuur van ’n Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody-bakkie beklink het.
De Villiers en Thorner was aan die einde van die eerste dag verlede Donderdag sesde nadat hulle ’n pap wiel gehad en op die sneltrajek van 275 km verdwaal het. Die Suid-Afrikaner het sy eerste internasionale veldtydren Vrydag gewen toe hy die sneltrajek oor 303 km voor die res van die internasionale renveld voltooi het. Dié vertoning het hom tot derde algeheel opgeskuif.
De Villiers het Saterdag ’n goeie dag beleef en al twee sneltrajekte in die Marokkaanse woestyn en aan die voetheuwels van die Atlas-bergreeks gewen en sodoende die eerste keer die voortou in die byeenkoms geneem. Hy het sy voorsprong Sondag behou met ’n versigtige vyfde posisie vir dié dag se sneltrajek en het die laaste sneltrajek oor 123 km met ’n voorsprong van ’n baie gemaklike 44 minute en 5 sekondes voor Sousa aangepak.
“Dit was ’n uitmuntende spanpoging,” het ’n oorstelpte De Villiers by die eindpunt in Marrakesh gesê. “Ons het almal baie hard gewerk om hierdie byeenkoms so suksesvol te maak. Ek is baie bly vir die span en ook in my noppies om my eerste internasionale veldtydren vir Nissan te wen, en dít agter die stuur van ’n Nissan Hardbody wat in Suid-Afrika deur Nissan Motorsport in Midrand gebou is om dit ’n werklik Trots Suid-Afrikaans-vertoning te maak.”
Voorlopige uitslag:
1 G de Villiers/T Thorner (Nissan Hardbody pickup) 15 uur 38 min 06 sek
2 C Sousa/M Henri (Mitsubishi Pajero) 16 uur 20 min 54 sek
3 JM Servia/F Borsotto (Schlesser-Ford-duinebesie) 16 uur 55 min 04 sek
|
|