Ceres Delta Tydren - 25 Oktober 2003
author: Patrick Vermaak
|
|
JP Damseaux and Cobus Vrey
|
As die standaard van toekomstige tydrenne in die WP teen die pas voltooide Ceres Delta Tydren gemeet moet word sal niemand weer ‘n tydren misloop nie. Soos verwag is die inskrywing van Serge Damseaux en Sarel van der Merwe die toeskouers ontneem vanweë kontraktuele verpligtinge, maar die inskrywing was eg en nie ‘n bemarkings foefie deur die organiseerders nie.
Drama was daar egter vollop want eers het Berto Mostert ‘n onderonsie met ‘n glasdeur verloor en was sy debuut tydren in die ex-Fernando Rueda WBMK GpN4 Stellenbosch Supa-Quick Mitsubishi Lancer 4x4 Turbo Evo VI in die weegskaal. Die weer profete was volgende aan die beurt met akkurate voorspellings van reën en die wat Ceres ken, weet dat die omgewing eensklaps in ‘n skaatsbaan kan ontaard. Paul Pfeiffer onttrek sy CPMCC klas A6 Toyota Corolla RXi nadat hy sy voete klaarblyklik lelik verbrand het en navigator, Duncan English, sluit hom aan by Enzo Kuun in die SWMK klas A7 Sasol Dual Fuel VW Polo Playa 2.0. Na aanvanklike twyfel of Enzo wel teenwoordig sou wees het die Polo span oorgehaal gelyk vir aksie.
Jean-Pierre Damseaux en Cobus Vrey het egter nie veel aandag geskenk aan die draaiboek vir hierdie verhaal nie want die SWMK klas A7 Span Total Toyota Corolla RXi 2.0 was werklik vanuit die staanspoor gereed vir alles wat die opposisie kon bied. Sneldeel een, 13.12km Jakkelsnek, het bestaan uit heelwat nuut geskraapte paaie en gevolglik het die paaie groot klippe opgelewer op die mees onverwagte plekke terwyl daardie gebruiklike 2.5km pylvak aan die einde toere tot in die rooi laat boer het. Die Corolla vertoon puik en wen die sneldeel met vyf sekondes, sonder enige skade.
Berto Mostert en Rikus Fourie spring goed weg met tweede vinnigste in die Mitsu 4x4 en word twee sekondes later gevolg deur die skreeuende blou VW Polo met niemand anders as Enzo Kuun in dieselfde tydren nie. Duidelik was hierdie drie spanne gereed om mekaar tot die einde aan te vat. Andy Haigh-Smith en Gerald Brace spog ongetwyfeld nadese met die hoogste gekombineerde ouderdom in enige tydrenmotor in Suid Afrika, maar hul laat die jongspan regop sit en aandag skenk met ‘n goeie vierde vinnigste tyd in die CPMCC klas A6 React Racing Toyota Corolla RSi 1600. Drie sekondes vinniger as Richard Behm en Grant St Clair in hul SWMK GpN2 Palbin Pallets Toyota Corolla RXi 1600 en hul weer drie voor die CCMCC klas A6 Amlay Motorsport Toyota Corolla RXi 1600 van Abduraghman Amlay en Yusuf Ganief.
Jon en Doug Williams volgende in die SWMK klas A6 Toyota Conquest RSi 1600 en hul word gevolg deur ‘n vasberade Martin Esterhuyse en Dave Gregory in die eerste agterwiel aangedrewe motor, die klas S4 BMW 325i. Ongelukkig eis sneldeel een ook reeds twee van die spanne met die klas S3 Murway Car Hire CCMCC Toyota Conquest RSi 1700 van Nishaad Murudker en Patrick Vermaak eerste om te groet met laers wat dreig om vas te brand en die klas S2 Toyota Corolla TRD 1600 van Inus du Plessis en Jaen Fouché word uitgekikker met ‘n gebreekte wielnaaf.
Wanganella 1, 22.38km, is in droë omstandighede ‘n sneldeel wat met groot respek hanteer word en met die skielike reën was die oppervlakte werklik onvoorspelbaar. JP en Cobus slaag nietemin daarin om die sneldeel te wen in die Total Corolla met die Mitsu van Berto en Rikus nege sekondes stadiger. Van die instruksies op hierdie sneldeel moes met millimeter perfeksie voltrek word en die groter Mitsu se tyd het werklik beindruk. In dieselfde asem moet JP geloof word vir ‘n vasberade poging. Enzo en Duncan sukkel effe om mekaar behoorlik te vind en die pas van die eerste twee vol te hou, maar hoewel hul 25 sekondes afstaan was hul duidelik nog nie bereid om handdoek in te gooi nie. Weer beindruk Andy haigh-Smith en Gerald Brace met die vierde beste tyd in die React Corolla, slegs 22 sekondes agter die Polo.
Richard Behm en Jon Williams deel die vyfde beste tyd met Wessel Venter en Patrick Johnson weer terug in die tydren nadat hul sneldeel een met ‘n papwiel moes voltooi in die GpN2 Harkers Automotive / Shell Helix WP Toyota Corolla RSi 1600. Martin Esterhuyse en Dave Gregory ook indrukwekkend in die BMW.
Die A5 Toyota Conquest 1400 van Kobus Edas en Derek Jacobs sukkel mt ‘n tydreëling probleem maak dit amper nie teen die berg uit nie terwyl die Amlay Motorsport Corolla uitgevang word deur die vinnig verswakkende oppervlak en vir sowat vier minute ontwerp hul ‘n nuwe roete deur die veld. Die klas S4 Daewoo Cielo 2.0 van André Cleenwerck en Carl Peskin raak van oortollige gewig ontslae deur die regter
voorwiel met vering en al af te gooi 11.47km binne die sneldeel en teen die tyd wat die agterste spanne die sneldeel aandurf is die oppervlakte behoorlik glibberig en onvoorspelbaar. Skaaprivier maak die speelveld weer gelyk want hier het almal nuwe terrein betree oor 5.84km en met die reën nou teenwoordig in emmer formaat was die stryd behoorlik aan onder die voorste drie spanne. Met geen natweerbande toot sy beskikking was Berto en Rikus gelukkig in staat om wel voordeel te trek uit die 4x4 vastrap vermoë van die Mitsubishi en hul teken ‘n tyd van 4min33 aan. Nou ja, daardie bykans 2km seksie teen die lyndraad af sou enige boer se 4x4 bakkie laat knaag het en die vertoning van die voorste drie spanne het ‘n mens met ‘n gevoel van ongeloof gelaat dat ‘n motor soveel kan verduur. Enzo en Duncan begin die krane oopdraai en die Polo teken 4min45 aan om een sekonde teen die Total Toyota te wen. En weer is die oumanne vierde vinnigste ! Op totale tyd was die Total Toyota nou slegs een sekonde voor die Stellenbosch Supa-Quick Mitsubishi en die Poloo span veertig sekondes stadiger.
Met die wêreld behoorlik nat en seepglad het sneldeel vier, Quians 1, 7.95km van aksie beloof. Hierdie sneldeel werklik die eerste wat as voordelig vir die 4x4 beskryf kon word, maar met geen natweer bande slaag Berto slegs daarin om drie sekondes van ‘n vasberade JP af te neem en Enzo volg vyf sekondes later.
Richard Behm en Grant St Clair begin ook hul teenwoordigheid verklaar met die vierde beste tyd . Die oumanne steeds indrukwekkend in die vyfde plek met Wessel en Patrick sesde in die Shell Corolla. Die Shell span het intussen ook hul voorruit gebreek nadat hul ‘n perske van ‘n boom afgery het en ongelukkig vergeet het van die tak wat daarmee gepaard gaan.
Die opvolgmotor, beman deur Neil Muller en John McLinden, het heelwat eienaardige spore begin aanteken en die eerste tekens van werklike onraad was toe hul ‘n hekpaal, hek en heining enkele meters verder as wat dit op die skedule geteken is aangetref het. Kort daarna vind hul die CPMCC klas S4 Nissan Sentra STi 2.0 van Les Faasen en Mandi Amery waar dit ‘n beton bruggie probeer ontwortel het. Nissan 0 Beton 1!
Sneldeel vyf en die water val teen ‘n stewige tempo. Die oppervlak bied beter greep en die 12.28km sneldeel se knap draaie en uitdagings sien JP weer vinnigste op 7min50 met Berto tweede op 7min55 en Enzo derde op 8min05. Die VW Jetta 2.0 van Leon Esterhuyse en José Jardiné sneuwel hier nadat die waaierband afgespring het en die plaasvervanger breek die nokasband. Steeds niks om te kies tussen die eerste drie nie en met van die sneldele wat na die rushalte herhaal sou word was almal dit eens dat die stryd pas begin het want die Span Total kombinasie het ‘n drie sekonde voorsprong geniet oor die Mitsubishi span en die Polo was slegs sowat een minuut slegter daaraan toe. Die oumanne het hul merk gemaak in die vierde posisie met die React Toyota en mens kan net wonder wat hul sou kon vermag het as hul twintig jaar vroeër al so hard begin ry het ? Richard Behm en Grant St Clair het egter die nat toestande begin geniet en so ook Wessel Venter en Patrick Johnson, beide in GpN2 Corolla’s. Martin Esterhuyse en Dave Gregory kon hulself op die skouer klop met ‘n vasbyt sesde algeheel op hierdie stadium in die swaar BMW 325, maar Nigel Dodgen en Billy Thorpe het die voordele van 4x4 begin benut in die klas S5 VW Golf Synchro.
Wanganella 2 was nou ‘n oorlewingsroete eerder as ‘n sneldeel want veral die damwalle het rillers geword om te oorbrug en die geringste pogings om die versnellers weg te trap het gepaard gegaan met onwillikeurige rigting veranderings waarvan veral die navigators nie baie gehou het nie. Die Conquest van Kobus Edas en Derek Jacobs word onttrek met enjin probleme en slegs sestien spanne durf die finale drie sneldele aan.
Die Polo moes ‘n bietjie Sasol bygevoeg het want Enzo en Duncan trek ore plat en klop die Total Toyota met ‘n volle elf sekondes oor die uitdagende 22.38km Wanganella 2, sneldeel 6. Berto en Rikus begin nou werklik sukkel met die verkeerde bande op die Mitsubishi.
Die oppervlakte was nou pap modder en werklik seepglad. Die skielike swak tyd deur Jon en Doug Williams het aandag gevestig op nog ‘n ontwortelde hek, kompleet met paal en lyndraad ! Nigel Dodgen en Billy Thorpe benut hul 4x4 Golf puik om verby die BMW van Esterhuyse en Gregory te skuif op totale tyd terwyl die klas S2 VW Golf van André George en Hilton Auffray met oorverhitting sneuwel.
Sneldeel sewe word oor die 7.95km van Quians 2 beslis en steeds is dit natter as nat. Weer is dit Enzo wat die leiding neem in die Polo om tot tweede posisie algeheel te verbeter en die Total Toyota volg slegs drie sekondes later. Richard Behm en Grant St Clair konsolideer vierde plek in die GpN2 Corolla terwyl die
oumanne steeds vasbyt in die vyfde plek met hul A6 Corolla. Wessel en Patrick was weereens hul bestendige self in die geel Corolla terwyl Nigel Dodgen homself begin geniet het in die Synchro 4x4 Golf van Shaun Jones. Martin Esterhuyse en Dave Gregory het alles in die stryd gewerp om die BMW voor die Amlay Corolla te hou.
Met slegs een sneldeel oor was dit ‘n uitgemaakte saak wat die uitslag sou wees, of was dit ? Enzo jaag soos iemand wat mik vir ‘n plek in die Citroën span en klop JP met ‘n volle twintig sekondes oor 12.28km. JP nie veel gepla daaroor nie want sy eerste plek was veilig na wat sekerlik as een van sy beste vertoning nog beskou kan word in die kragtige klas A7 Span Total Toyota Corolla RXi 2.0.
Berto Mostert en Rikus Fourie het die finale sneldeel begin met die wete dat die blou Polo waarskynlik nie geklop sou kon word nie en was tevrede om hul debuut tydren in die derde plek te voltooi. Ongelukkig word hul ses kilometer binne die sneldeel wreed herinner aan die onvoorspelbare natuur van motorsport toe hul die pragtige Mitsubishi 4x4 Turbo Evo VI ten aanskoue van die hordes toeskouers skouspelagtig uit die tydren rol. Na wat die motors heeldag moes verduur was ‘n rol hier amper belaglik.
Jean-Pierre Damseaux en Cobus Vrey uiteindelik welverdiende oorwinnaars in die Span Total klas A7 SWMK Toyota Corolla RXi 2.0 met Enzo Kuun en Duncan English tweede in hul Sasol Dual Fuel klas A7 SWMK VW Polo Playa 2.0. Derde plek ingeneem deur Richard Behm en Grant St Clair in hul SWMK GpN2 Palbin Pallets Toyota Corolla RXi 1600 na ‘n bestendige vertoning. Hul enigste drama die verlies van hul agterruit in die voorlaaste sneldeel. In die dae van spanpryse sou die Somerset Wes Motorklub voorsitter, Tom Lown, beslis breed geglimlag het
Vertoning van die dag moet gaan aan Andy Haigh-Smith en Gerald Brace vir hul vierde posisie algeheel in die CPMCC klas A6 React Racing Toyota Corolla RXi 1600 en hul word gevolg deur die perske diewe, Wessel Venter en Patrick Johnson, in hul CPMCC GpN2 Harkers Automotive / Shell Helix WP Toyota Corolla RXi 1600. Nigel Dodgen bewys dat hy nog steeds ‘n tydrenmotor kan hanteer deur die CPMCC klas S5 VW Golf Synchro 4x4 van Shaun Jones veilig tuis te bring in sesde posisie algeheel. Billy Thorpe versigtig om nie kante te kies tussen die twee bestuurders nie.
Sewende algeheel en die eerste agterwiel aangedrewe span tuis was Martin Esterhuyse en Dave Gregory in die CPMCC klas S4 BMW 325. Die span se grootste probleem was ‘n voorruit wat aanhou wasem het. Abduraghman Amlay en Yusuf Ganief herstel van hul 4x4 avontuur om die CCMCC klas A6 Toyota Corolla RXi 1600 agtste tuis te bring . Thenswille Overmeyer en Wesley van Heerden sluit hul debuut tydren in die ex-Fernando Rueda / Mark de Nobrega klas S3 Toyota Conquest RSi 1600 af met ‘n bestendige negende plek en die top tien word afgerond deur die klas S2 SWMK VW Golf CSL 1600 van Neels van Wyk en Jeremy Northcote. Jon en Doug Williams in ‘n teleurstellende elfde posisie met hul ex-Serge Damseaux SWMK klas A6 Trident Press Toyota Conquest RSi 1600. Rupert van Zyl en Robin Lussem behaal ‘n bemoedigende twaalfde plek in hul klas S3 VW Golf MkI 1800.
Tydren nuweling, Shaun Lipshitz en Adrienne Swart eindig dertiende in die ex-Pierre Goosen klas S3 CPMCC VW Golf 1800 en die finale span tuis is die CCMCC klas S2 Toyota Conquest RS van Kesevan Naidoo en Garth Scholtz. Indrukwekkend om te let op die feit dat JP die tydren 50% vinniger voltooi het as die laaste span tuis. Dit is ongelukkig ‘n onbedwonge feit dat die Kaap nie kan spog met die Gautenge getalle in tydrenne nie, maar met betrekking tot uitdagende roetes en atmosfeer sal ‘n tydren soos die pas voltooide Ceres Delta byeenkoms moeilik geklop kan word. Enzo het tereg opgemerk dat geen verskoning vir die weer gemaak moet word nie want dit was waardevolle oefening in meoeilike omstandighede wat maklik tydens ‘n nasionale kampioenskap tydren herhaal kan word.
Bemoedigend om Serge Damseaux teenwoordig te sien, al was dit net in die rol van bekommerde span bestuurder en ander wat deur die dag opgemerk was sluit in Brady Dabner, Charl Strydom, Diffie Marais en Danie de Waal. Gerugte wil dit hê dat laasgenoemde duo mag terugkeer gewapen met ‘n Run X in 2004 terwyl Charl bevestig het dat die ex-Goosen klas A6 Sabre Paints VW Golf CSL 1600 weer slaggereed sal wees vir die finale tydren van die jaar op 29 November. Hopelik sal die Mitsubishi ook betyds herstel kan word !
|
|