Rally Events Photos Competition

Gaan jy die een wees van wie hulle 'n voorbeeld maak?
author: Leon Botha
RallyStar editor - Leon Botha
Gewapen met my enigste Mont Blanc, Michel Herbelin horlosie, Gucci skoene, Brooks Brother hemp, Leonard das, Wallstreet broek, Police bril op my voorkop en my egte leeromslag met die ingeboude rekenaar afspraakmaker, my Motorola mini toevou selfoon aan die beltknip – want dis nie meer nodig om die dingetjie in jou hempsak te dra nie, dis in elk geval onmoontlik want die in ding is dat hempsakke nou uit is! – stap ek by die hof in, die slag om bietjie te probeer gesels met iemand wat my meer kan vertel oor korrupsie.

Hoekom so aangetrek, wil jy weet? Die rede is eenvoudig, dis omdat ek altyd so aantrek wanneer ek my voordoen as verslaggewer vir ‘n motorwebblad. Geen mens sal jou glo as jy sommer net daar aankom en dit lyk of jy 'n cheapskate is nie. Kyk maar op die TV hoe lyk motorverslaggewers - my maat, net die beste is goed genoeg!

So, opgedress stap ek daar in - maar helaas, dit kon netsowel Sondagoggend gewees het, want ek word van bakboord na stuurboord, van aanklaer na landdros, van Kamer 13 na ander nommers verwys, en waar ek nie op ‘n teeparty afkom nie, klop en aan leë kantoordeure.

Dit laat my toe besluit om liewer te skakel. Steeds opgedress en agt oproepe later word ek verwys deur ‘n vriendelike dame na iemand was “rerig alles hieroor behoort te weet”. Vol moed (onthou ek glo ook nog sterk aan krismis vader, alhoewel ek sy takbokke se vermoëns in twyfel trek), skakel ek die nuutgegewe nommer.

Ek stel my hele storie – ek praat en verduidelik – en sit toe terug, die slag sommer met my potlood in die hand om vinnig aantekeninge te kan maak – Huh??

O shirts, julle weet nog nie wat die storie is nie? Skuus, laat ek gou vertel.

Die storie het lankal begin, dis iets waaroor by die meeste partytjies, braaivleise, rugbywedstryde, tdens motorsport prysuitdelings terwyl die ander ouens hulle spietse gee, gepraat word – oral waar iemand met enigiets vinniger as ‘n Austin Apache Automatic ry: Die bravado van die jagende
omkoper tendens.

Trek bietjie oor ou maat, ek wil net jou agter nommerplaat check!
Padwoede, hysbakwoede, koerantwoede, nuuswoede, tuinierwoede, belastingwoede, woede-woede en die soort ding bestaan al lank, dit gepaardgaande met windgatgeit, drietaligheid – kyk, die meeste blankes kan mos in Suid-Afrika Afrikaans, Engels en nonsens praat – maak natuurlik die kern van ons daaglikse bestaan uit.

Dis nou mode om te vertel hoe vinnig jy hiernatoe of daarnatoe gejaag het; hoe die man met die koek onder sy arm agter die bos uitgespring het, aan jou beduie het om stil te hou; en vandaar kom die stories. Groot stories, liegstories en waarstories, maar stories gewis.

Die storie lui gewoonlik oor die algemeen soos volg: “John Wayne stap toe nader en met die jam van sy toebroodjie wat hy by die vorige ou gekry het, nog so aan die een hoek van sy mond, vertel hy my dat – 'skuus, hy vra eers: How ar djoe?? – en toe ek nog vir hom wil vertel dat hy my seker nou binne
kort gaan vertel “how I ars” seg hy sommer vir my dat ek “in big trouble” is. Hy wil darem weet of ek na die instrument wil kom kyk, en ek’s lus en sê vir hom dat dit moeilik gaan wees om enige instrument te sien, want ek gaan nou sy instrument in sy gat opdruk, maar bedink my betyds.” Die verteller kyk dan so selfvoldaan rond, om seker te maak almal wat saak maak luister na die storie. Jy kan sommer sien hoe almal dink aan die storie wat hulle na die tyd gaan vertel, van hulle eie ervaring.

Ek sê toe maar “No tanks” en vra “if we cannot maar fix up this little oversight between us”; en na hy so twee keer oor sy skouer gekyk het, terwyl hy natuurlik alleen die instrument beman, vra hy soos ‘n omkoop virgin, “what means you?” – ek seg toe maar dat ek seker is dat hy “knows what I means” en knipoog net so een keer vir hom terwyl ek so half en half op my
gatsak tik terwyl ek vorentoe in die kar sit. Ek knik nie twee keer nie, want netnou is sy seksuele voorkeure dalk anders as myne en wil hy dalk nie net geld hê nie.

Nou hoor meneer my glad nie, en hy vra of hy my lisensie kan sien. Eers soek ek die lisensie in my beursie en kry hom bokant die sunvisor. Julle weet seker hoekom die nuwe lisensies waarvoor julle spatare op julle bene gekry het van al die staan, nou kaartgrootte gemaak is? – omdat jy nie ‘n ID
boekie in ‘n R100 noot kon toedraai nie. In elk geval, ek draai die lisensie met ‘n lyk se vingerafdruk op in die R100 toe en gee dit vir hom deur die venster.

Hy kyk weer so twee keer oor sy skouer na niks en sy vingers maak sulke skuifelbewegings wat lyk soos ‘n geelbladsye advertensie - en siedaar, kul jou hier, kul jou daar, weg is die noot! Hy ondersoek my lisensie deeglik en vertel my van die volgende spoedlokval net so 2km verder.

Sonder 'n verdere woord word die lisensie in my hand gedruk en daar gaat ek verder.

Die omkoopverhale strek van ‘n pakkie Stimorols tot R500, maar elkeen kan ‘n storie vertel.

Dit klink bekend, nie waar nie?

Ek is weer terug by die hof waar hierdie ouens wat die omkoopgeld ontvang en die wat dit gee, seker elke dag voor die landdros in die Streekhof moet verskyn.

Omkoop en/of korrupsie: “Dis Streekhof sake daardie” is die enigste definitiewe inligting wat ek kan kry. Niemand – wel nie een waarmee ek kon praat of na wie toe ek deurgeskakel is - het geweet waarvan ek praat nie; of as ons uitgeklaar het dat ek wou weet wat gebeur met my as ek langs die pad die
ontvanger van omkoopgeld en ‘n moerse salaris probeer omkoop - en met my geluk probeer om die enigste eerlike ou langs die pad om te koop - wat die antwoord is nie. Sal ek
gearresteer en aangekla word omdat ek omkoopgeld aangebied het, aangekla word van korrupsie en dies meer, of wat? Dis al wat ek wou weet.

Ek sal nou maar nie name range, posisies, en dies meer noem nie; maar ek kon nie by een persoon uitvind wat werklik die posisie is nie. Die groot rede daarvoor is natuurlik die feit dat hulle GEEN sulke sake het nie.

Eers sluk jy so twee keer hard, maak keel skoon, jou bek is droog van skok – GEEN sulke sake nie? Vra jy meer huiwerig as verbaas.

Nou begin die verduidelikings, almal in beginsel dieselfde – maar die beste verduideliking en verklaring wat ek gekry het was van ‘n streekhof aanklaer op ‘n plattelandse dorpie. Sy het darem min of meer die saak onder beheer gehad en mens kon hoor dat sy nie sommer net van vandag af daaroor dink nie.

Haar storie is eenvoudig – die beampte vat R50 tot R100 omkoopgeld – nie dat sy weet van sulke gevalle nie, want sy “weet” niks tot dit as beëdigde verklaring voor haar land nie. Maar kom ons veronderstel daar gebeur sulke dinge, sê sy tong in die kies.

Die beampte weet dat as hy R50 per slag neem, geen kind of kraai daaroor sal praat nie. Neem hy 30 sulke bedraggies per dag, dan maak hy sowat R45 000 belasting vry per maand of natuurlik R412 500 per jaar - plus natuurlik die salaris wat hy in elke geval ook in sy sak steek. Die R412 500 is uitgewerk met sy verlof, en dae afwesig - so 90 dae in totaal, in berekeing gebring. As hy dus verkies om oortyd te werk, kan hierdie inkomste 'n Metro amptenaar se R790 000 pre jaar salaris laat simpel lyk!

Een van die persone waarmee ek gepraat het, het gesê “kyk maar net na die motors wat hulle ry en die huise waarin hulle bly” en jy sal kan sien wie voor in die ry staan.

Dit is tog immers nie moeilik vir die gesag, wie de donner hulle ookal is, om te kan sien dat iemand nie sekere goed moet kan koop op die inkomste wat hy kry nie – of is dit makliker om eerder besigheidsmense vas te trek, want hulle moet mos belasting betaal op alles en hulle moet alles verklaar wat
hulle inkry.

Die oortreder is maar te bly, want eerstens spaar hy die hele boete - of alles behalwe die R50 of R100 wat hy as omkoopgeld betaal het. Sou hy so simpel soos ek wees en hy gaan hof toe, na hy al die instrumente en metode van operasie, inskrywings en dies meer nageaan het, dan wen hy die saak maar hy verloor ‘n dag se inkomste, plus die reisgeld en ander onkoste.

Die ander redenasie gaan juis hieroor – omkoopgeld of boete maak nie saak nie: Skuldig of onskuldig, die motoris betaal dit, omdat hy nie kans sien om hof toe te gaan nie.

Word jy byvoorbeeld in die Kaap gevang en jy moet daarheen ry om die saak te verdedig, kom jy daar en die saak word uitgestel omdat dit die “eerste verskyning” is. Na ‘n maand of twee kom jy weer by die hof en die slag word die saak uitgestel omdat die “staatsgetuie siek is”.

Die volgende keer is daar ‘n ander verskoning.

Hierdie toestand alleen skep myns insiens uitstekende versagtende omstandige vir die “omkoper” – “Ag Edelagbare, ek weet dat indien ek hof toe sou kom, die saak uitgestel sou word... Ek het my dood geskrik toe die man vir my sê ek sou R1000 moes betaal – toe gee ek hom maar R50 soos hy gevra
het.”

Die perfekte sisteem vir korrupsie. Daar is natuurlik ander uitweë – en veral met moderne toerusting so geredelik beskikbaar gaan dit my verstand te bowe dat die howe nie van afstandgetuies op TV gebruik maak nie. Waarom kan ek nie in die hof in Pretoria staan, die beampte op Koekenaap staan daar in die hof, en die Landdros daar verhoor die saak. Sou daar ‘n boete opgelê word, betaal ek sommer hier in Pretoria by die hof in, en as die saak uitgestel word, is my verskyning in Pretoria goed genoeg.

Nee, al die slimste regsgeleerdes is tevrede dat die sake uitgestel word, omkoopgeld ontvang word en die land in algehele korrupsie verval – of is hulle nie?

“Ek sê jou, die eerlikste lid op die aardbol sal eerder die R50 betaal as om al die trauma deur te maak,” is ook deur ‘n amptenaar gesê.

Ek sê onomwonde ons gaan vorentoe erge trane stort.

Ons het die week in die koerant gesien dat twee toeriste R500 moes opdok aan twee beamptes, een met goue voortande en die ander met ‘n skrikwekkende grynslag – probleem is net hulle het gaan praat. Waarom? – omdat die twee beamptes te
ywerig gekollekteer het en nie tevrede was met die standaard fooi van R50 tot R100 nie.

Kom ek skets vir jou wat met jou gaan gebeur wanneer jy die dag aan ‘n eerlike beampte ‘n bedrag geld aanbied terwyl hy getuies by hom het, of dalk ‘n verskuilde kamera of bandopname: Die klag gaan wees een van korrupsie. Hy gaan die geld by jou vat om die daad te voltooi, hy gaan die getuienis mooi agtermekaar kry, jou arresteer en jy gaan waarskynlik ‘n rukkie spook om borg te kry, omdat korrupsie ‘n streekhofaangeleentheid is en daar nie altyd geredelik borg toegestaan word nie.

Afhangende van wat al jou stories gaan wees, onthou jy is op band vir almal om te sien en/of te hoor - toelaatbaar of nie, dit staaf gewoonlik die getuienis van die persoon met dit in sy besit.

Die Staatsaanklaer gaan in die meeste gevalle vra vir tronkstraf en nie tevrede wees met ‘n boete nie. Drie tot vyf jaar is die straf vir korrupsie.

Ja, daar heers op hierdie stadium verwarring, daar kom nie juis klaers na vore nie, dit lyk in alle waarskynlikheid dat jy sal wegkom al word jy aangekla – maar wat van die dag as die regte ou op die regte plek staan?

Hoe het onse Clint Eastwood gesê? “Do you feel lucky punk? Make my day – offer me a bribe”
Make my day punk - offer me a bribe!


Hoe gouer ons hierdie euwel uitroei, hoe gouer ons hulle aankla, hoe beter sal dit met ons gaan.

Wanneer ons hulle verplig om hulle werk te doen, wanneer spoedlokvalle nie vir hulle ‘n bron van uitstekende inkomste is nie, dan sal hulle begin om te kyk na daardie vragmotor wat ongesteurd by hulle verby ry op pad na die volgende dorpie waar hy 12 mense langs die pad gaan doodry.

Wees so simpel soos ek, gaan beveg die saak, of as jy bereid is om die oortreding te begaan, moet jy bereid wees om die boete te betaal.

Moet nie toelaat dat jou R50 of R100 bydra tot ons ander se smart en swaarkry wat voorlê nie. Jy is besig om perfekte omstandighede vir misdaad te bevorder – jy veroorsaak dat ons andere meer belasting moet betaal; jy veroorsaak indirek dat daar voertuie op die paaie ry wat nie eers in ‘n goeie scrapyard hoort nie.

Stop hierdie nonsens voor dit te laat is – dit is amper al so.

Ns. - Net gister (30 Oktober 2003) kondig een van die ministers van openbare ongelukke met groot fanfare aan dat hulle vir ‘n periode van 12 dae of so iets, 24 uur per dag die padwaardigheid van voertuie, die bevoegdheid van bestuurders en diesmeer gaan ondersoek.

Gaan hulle dalk nou hul amptenare gebruik om dit te doen, of gaan hulle tydelike ouens in permannete posisies aanstel –of dalk die Metropolisie se puik mag gebruik?

Hello?

Hello? weer –

Hoe lank sê ons al dat spoed alleen by deeglike padwaardige motors nie die probleem is nie, dis daardie gemors waarin ons vasry, hulle is waar hulle nie moet wees of hoort nie, en ook omdat voertuie nie so lekker op drie gladde bande, een briekdrom, en met 'n vrag wat bedoel is vir vier sulke voertuie hanteer nie, wat die ongelukke veroorsaak. Dit is waar die probleem lê.

Maar my liewe (effens terughoudend gesê) minister, die probleem lê lyk my by die wat jy gebruik om die probleme op te los. Los eers jou probleem daar op en jy sal verbaas wees hoe die ongeluk syfer daal.

Die oorsaak van die dodetal op die paaie is en bly die toepassing van die wet - en dit beteken nie om agter bossies weg te kruip en diegene te vang wat nie die ongelukke veroorsaak nie.

Natuurlik is spoed 'n faktor, maar dit sal met ons wees solank as wat voertuie in staat is om vinniger as die spoedbeperkings te ry. Logika sal nou vir jou sê - dis as jy kan of wil luister - dat jy die paaie moet veiliger maak vir die algemene gebruiker. Jy sal ook moet aanvaar dat die algemene verbruiker vinniger ry as die toegelate spoed, maar hoeveel van hierdie padwaardige voertuie is alleen in ongelukke betrokke, o ja, daar is, maar weereens kyk hoeveel van die voertuie wat julle nooit aftrek nie omdat hulle nie die spoedgrens kan oorskry nie, maar verder elke reel verontagsaam, is in botsings betrokke.

Waar is jou beamptes wanneer oorvol taxi's aan die linkerkant van die verkeer in die sperbaan verby jaag - waar is hulle wanneer hul teenwoordigheid werklik nodig is? Langs hul swembaddens, in hul jakoesies, in Londen, Parys of Dubai?

Maklik, is dit nie? Ek wil nie eenvoudig sê nie, want netnou dink diegene wat daarvoor moet sorg, dat ek sê hulle is eenvoudig. Dit sal ek nooit sê nie - pampoene, miskien, maar eenvoudig? Nooit!





Comments written by other visitors


>> There are no messages <<






      Members



      Site features
   Online discussion forums
   TV shows
   RallyStar prizes
   Photo galleries
   Motorsport calendar



Copyright © 2003 - RallyStar.co.za
All Rights Reserved