Blue Crane Benefit Tydren - Somerset Wes Motorklub
author: Patrick Vermaak
|
|
Kobus Edas en Denzil Isaacs
|
Die modder het nog beswaarlik hard geword na afloop van die uitmergelende Subaru Cape Tydren of sewe en twintig spanne maak gered om komende Saterdag in die gewilde Overberg distrik aan die vyfde rondte van die WP tydrenkampioenskap deel te neem.
Die Blue Crane Benefit Tydren bestaan uit sewe sneldele oor 101km met 'n totale tydren afstand is 270km. Toeskouergidse vir die aanskoulike en aksiebelaaide tydren sal by die Caledon Spa en Casino wegspring beskikbaar wees. (Dit is steeds onduidelik waar en hoe die Blou Kraanvoël by die titel inpas, maar die area is bekend vir die SA nasionale voël)
Stephan van Dyk en Mark Pym is tot op hede onstuitbaar op plaaslike front met die House of Subaru Gp N4 Subaru STi 4x4 Turbo en hoewel die Overberg tradisioneel baie vinnig is behoort hierdie CPMCC kombinasie weereens te domineer.
Tweede op die lyn sal wees die klas S5 CPMCC VW Golf Synchro 4x4 2.0 van CPMCC kombinaise, Shaun Jones en Billy Thorpe. Tegnologies verouderd teenoor die magtige Scooby is die verrigting van die geel Golf steeds indrukwekkend, maar nie altyd so betroubaar nie, maar dat die span weereens 110% sal lewer is seker. Span “Oupa” spring derde weg in die baie indrukwekkende CPMCC klas A6 Team REACT Racing Toyota Corolla RXi 1600. Andy Haigh-Smith en Gerald Brace sal gereed wees om die jongelinge op hul tone te hou en kan eenvoudig nie onderskat word nie.
Wessel Venter en Patrick Johnson sal vierde wegspring in die geel CPMCC Gp N2 Harkers Automotive / Shell Helix WP Toyota Corolla RXi 1600. Hierdie span kan met respek as die WP se lastige vlieg beskou word want maak nie saak waar hulle deelneem nie, daardie geel Corolla is altyd by die eindpunt. Ook in Gp N2 en 'n span wat vanjaar besonders vinnig geword het is die trotse Pa en seun kombinasie van Jon en Doug Williams in hul SWMK Trident Press Toyota Corolla RXi 1600. Die span is tans goed op dreef om Gp N2 nasionaal te verower en na 'n briljante Cape Subaru Rally uitslag sal hul vordering weereens baie aandag geniet.
Die Somerset Wes Motorklub spog met name soos Serge Damseaux en Jean-Pierre Damseaux as deel van hul geskiedenis en dit is amper ongehoord om 'n tydren inskrywingslys te sien waarop slegs een SWMK voorkom. André Cleenwerck en Carl Peskin het die Polo se enjin gedurende die Subaru tydren opgeblaas en met te min tyd om 'n nuwe enjin te bou sal die span met Douglas se klas S4 Adez Motorsport Daewoo Cielo 2.0 meeding. Mike Nathan en Rikus Smit was verheug oor die verrigting van hul ex-Jon Williams CPMCC klas A6 Aluminium Window Industries Toyota Conquest RSi 1600 en die span is oorgehaal om voort te bou op hul puik debuut in die Cape Subaru tydren.
|
|
Peter Hayer-Cleave en Brendon Schultz S5
|
Ettiene du Toit wat die renbaan begin 2004 vir tydrenne verruil het, verras met die wyse waarop hy by die nuwe uitdagings van grondpad ry aangepas het in die WBMK Gp N2 McCarthy N1 Stad Toyota Corolla RXi 1600. Komende Saterdag sal slegs sy sesde tydren as bestuurder wees. Ettiene en Patrick Vermaak was ongelukkig om sowat ses minute as gevolg van 'n pap voorwiel te verloor met die Subaru Cape Tydren, maar doen steeds ondervinding op. Clinton Sassman en Andy Schreuder sal die haastige Team Economic CCMCC klas S4 BMW 325i vrye teuels kan gee hierdie naweek met die paaie normaalweg uiters geskik vir die swaarder agterwiel aangedrewe inskrywings.
Charl Strydom en Sakkie Bosman is nog 'n span wat alles in die stryd sal werp, veral omdat die Sabre Paints CPMCC klas A6 VW Golf A3 CSL 1600 deur Pierre Goosen in die Overberg voorberei word en hul ook 'n swak Subaru tydren gehad het.
Abduraghman Amlay en Yusuf Ganief is nog 'n kombinasie wat kan beindruk as dinge goed gaan in die CCMCC Amlay Motorsport klas A6 Toyota Corolla RXi 1600.
Peter Heyer-Cleave en Brendon Schultz deel oudergewoonte die klas S5 Mitsubishi Lancer Evo 3 4x4 Turbo en hoewel die paaie amper te goed gaan wees vir die Afrika tydrenmotor het Peter bewys dat hy sy voete begin vind hier aan die Suidpunt van die kontinent.
|
|
Jean du Plessis en JC Barnard in die BMW
|
Wanneer senior tydrenners iemand se bestuurstyl komplimenteer word daar met heelwat aandag geluister en die span wat soveel indruk gemaak het op die Cape Subaru was die Swartlanders, Jean du Plessis en JC Barnard, in hul feitlik standaard WBMK klas S4 BMW 325i. Skoon, netjies en vinnig sal hul ook komende naweek die BMW se hakskene kan inkap.
Hul het die Subaru tydren voltooi met 'n dryfas wat besig was om af te val en jaag steeds sonder hulp van 'n odometer! Dit is nie 'n geval dat dit nie werk nie, daar is glad nie 'n eenheid in die motor nie!
Neels van Wyk en Jeremy Northcote span weer saam in die CPMCC klas S3 VW Golf GTi 1.8 en hierdie span beskik ook oor die potensiaal om redelik vinnig te wees, wanneer hul minder aandag skenk aan die toekouers se plesier faktor. Altyd bereid om aanskoulik te wees en toeskouers geniet hul terdeë. Tienie Overmeyer en Wesley van Heerden het 'n baie kort Subaru tydren in hul CCMCC Melvin’s Transport klas S3 Toyota Conquest RSi 1600 gehad en sal beslis Saterdag wil vergoed daarvoor.
Jacques Brits en Johan la Grange het hul WBMK Gp N2 Lize Signs Toyota Conquest RSi 1600 effe kleiner gemaak teen n boom, maar die Swartland kombinasie is ook vinnig besig om hul teenwoordigheid in Gp N2 te vestig en mag net verras in die Overberg.
Kobus Edas en Denzil Isaacs sal hopelik komende Saterdag wegspring in hul baie temperamentele CCMCC klas A5 Toyota Tazz 1300. Die nuwe motor kon tot op hede net eenvoudig nie betroubaar gemaak word nie en hopelik draai hul geluk Saterdag. Die teendeel kan egter gesê word van André George en Hilton Auffray in hul borglose CCMCC klas S2 VW Golf 1600. Hierdie kombinasie is vanjaar die toonbeeld van 'n span wat met feitlik geen ondersteuning jaag nie, tog haal hul telkens die eindpunt en bereik hul uitstekende resultate. Doen so voort!
Nishaad Murudker en Adrienne Swart sal weereens slag bied in die CCMCC klas S3 Murway Car Hire Toyota Conquest RSi 1600 en die span word ook met elke tydren sterker. Leon Esterhuyse en Anco Jordaan sal hul debuut maak as span in die ex-Mike Wyngaard WBMK klas S4 Opel Kadett 2.0 en Leon het nogal 'n voorliefde vir hierdie tipe sneldele. Die Opel beskik oor die nodige verrigting om onder die regte omstandighede te verras. Rupert van Zyl se navigator moet nog aangewys word in die CPMCC klas S3 VW Golf 1800 terwyl John Peiser en Brian Hoskins weer deelneem in die CPMCC Gp N1 VW Golf 1400i. John is ook besig met sy eerste seisoen as tydrenjaer.
Lance Slabbert en Deon van Greunen deel die Fetche & Carry Couriers CPMCC klas S3 VW Golf GTi 1800 en word gevolg deur die soortgelyke motor van Shaun Lipshitz en Kurt Eriksen. Harry Giliomee en Fritz Blom sal hopelik hul rem probleme reggestel kry voor Saterdag want die WBMK klas S2 Toyota Corolla 1600 kort ook 'n goeie resultaat. Leon Oosthuizen en Rodney Pedro jaag in die klas S4 VW Jetta 2.0 en word gevolg deur die finale inskrywing, Kesevan Naidoo en Garth Scholtz, in hul CCMCC klas S2 Toyota Conquest 1300.
|
|
Harry Giliomee en Fritz Blom S2
|
Kom geniet 'n dag van aksie in die Overberg! Die eerste motor spring om 10h00 weg by die Caledon Casino en Spa en sal weer teen ongeveer 16h00 die eindpunt bereik.
|
|