Rally Events Photos Competition

3de VV4 Vervoer / AWI Wolseley Gymkhana Witzenberg Motorklub
author: Patrick Vermaak
FILES TO DOWNLOAD

  • Kliek om die Resultate oop te maak

    Werner en Ilse Koekemoer - gelukkig vir die twee het ek nie nog twee koppies in daardie kar gesien nie! Red.
    Daar is met groot afwagting uitgesien na die 3de aflewering van die VV4 Vervoer Wolseley Gymkhana en met Aluminium Window Industries as titelborg kon Danie Smuts en Pieter Hugo werklik die standaarde lig. Soos verwag het die byeenkoms ‘n volle kompliment van 50 spanne uitgelok en reeds van vroegoggend het die perseel gespog met ‘n skare wat baie ander vorms van motorsport jaloers sou maak. Die weer was puik en die atmosfeer selfs beter.

    VV4 het gesorg vir ‘n fantastiese onderdak paviljoen en die enorme sleepwaens is omskep in gerieflike opelug paviljoene om werklik die area in ‘n motorsport stadion te omskep en as hierdie byeenkoms net die begin verteenwoordig het gaan 2005 nog geweldig baie aksie oplewer. Elke span kon die uitdagende roete vyf keer aandurf met die vinnigste twee tye wat vir die uitslag in aanmerking geneem is. As verdedigende kampioen het Mike Nathan, met skoonpa Dirkie Boonstra as navigator, puik weggespring net om die eerste lopie sonder koppelaar te voltooi. Johan de Goede het onder die Rustler verdwyn en ‘n toeskouer het ‘n Mazda koppelaar aangebied terwyl die sweet begin vloei het om die blitsige bakkie weer gereed te kry.
    Die Nathan en Boonstra wenkombinasie!


    Intussen het die verdedigende Witzenberg Motorklub kampioenne, André Dreyer en Stoffel Bezuidenhout, die standaard vir die dag begin stel in hul Weskaap Bakwerke klas A VW Golf GTi 2.0 16klep met Peet en Freda van der Walt self op hul stukke met die bekende Goldwagen klas B VW Golf CTi 1800. Dit was natuurlik ook die eerste verskyning van die van der Walt egpaar nadat die twee uiteindelik die knoop deurgehaak het op 16 Maart.












    Eugene Bouwer en Joanne Groenewald Toyota Conquest RSi 1600
    In klas C was dit die swart Toyota Conquest RSi 1600 van Knysna kombinasie, Eugene Bouwer en Joanne Groenewald, wat die beste tye aangeteken het met die vinngste 1400 die Opel Kadett van Attie en Karen Groenewald (ook onlangs getroud).
    Attie en Karen Groenewald Opel Kadett 1400


    Teen alle verwagtinge was dit die Swartland klas S4 tydren voorbereide All Parts BMW 325i van Jean du Plessis en JC Barnard wat die agterwiel aangedrewe pas aangegee het. Jaen en Piet Fouché het die rooi tydren BMW 325i van Inus du Plessis beman, maar hul het op skouspelagtige wyse sonder die regter agterwiel tot stilstand gekom tydens hul eerste poging en is die wit BMW aangebied om twee lopies mee te voltooi.
    You picked a fine time to leave me loose wheel.....Jaen en Piet Fouché BMW 325i1








    Charl van Sittert en Johann Zulch Mercedes Kompressor
    In die eksotiese klas was dit Charl van Sittert en Johann Zulch wat met hul pragtige Mercedes Kompressor geskiedenis gemaak het. Beslis die eerste keer wat ‘n voertuig uit hierdie stalk om stem dikmaak het.




    As mededinging was daar die skouspelagtige Nissan SX200 Turbo van Gerrit Coetzee en Anton Slabbert. Die VW spesialiste duidelik gelukkig om die Nissan se start oral heen te swaai en dit gaan nog ‘n gunsteling motor word vir die toeskouers. Gavin Grierson en David Delaney, Datsun 160U SSS, het oudergewoonte kragte gemeet met die wit Ford Escort 1600 Sport van Johann en Casper Zulch.
    Dawie Joubert Honda Civic Turbo 1600



    Dawie Joubert het sake kom beproef in ‘n baie giftige Honda Civic 1600 Turbo, maar hoewel hierdie motor duidelik genoeg krag lewer is dit ‘n handvol op ‘n gymkhana. Ook terug na ‘n baie lang afwesigheid was Werner Koekemoer en sy M3 aangedrewe Heritage BMW 325i tydrenmotor en wat ‘n skouspel het hy nie gelewer nie! Radio Namakwaland omroeper, At Strydom, is die geleentheid gebied om ‘n motor gymkhana eerstehands te ervaar as navigator vir Dirkie Boonstra in die klas D Supertrucks Nissan Skyline 2.8 en hy het ook ‘n rondte saam met Werner gewaag sonder om te veel van kleur te verander. Mosselbaai se vinnigste “spietkop”, Steff Pietersen was oudergewoonte terug in die Ronat Datsun 1400 LDV met Mynelle de Jongh as navigator.

    Mynhardt de Jongh en Liezel Theron Berns BMW M3
    Dirkie Boonstra het ‘n oormag BMW teenstand gehad met Mynardt de Jongh meesterlik in sy debuut byeenkoms met die Berns Panelshop BMW M3, Werner Koemekoer skouspelagtige soos net hy kan wees in die Heritage 325i, Jean du Plessis ongelooflik vinnig in sy ouer 325i.
    Jean du Plessis en JC Barnard in die BMW 325i




    Mynhardt het groot lof ontvang van die Kaap se M3 spesialis, Herman Mahnke, en die vooruitsig om die Mahnke broers teen de Jongh en Koekemoer te sien op Club Mykonos klink watertand lekker. Kanse is ook goed dat die Supertrucks Skyline dan oor ‘n vastrap ewenaar mag beskik.



    Ooopsie daisy ........ Dewald de Beer en Stephen Louw
    Nuwelinge is gereeld verantwoordelik vir die aanskoulikste glipse en hierdie keer het Dewald de Beer en Stephan Louw die eer gehad om die toeskouers die hardste na hul asems te laat snak toe hul die Daewoo Matiz 800cc op twee wielle balanseer het. Waarom die motor nie omgeval het nie sal niemand weet nie, maar ‘n baie bleek Dewald was duidelik verlig by die eindstreep.


    André en Stoffel, Weskaap Bakwerke klas A VW Golf GTi 2.0 16klepper, het net begin dink dat sake in hul guns begin draai toe Mike en Dirkie skielik weer hul verskyning gemaak het in die AWI Rustler. Met sy rug behoorlik teen die muur is die Mazda behoorlik opgewen en hoewel die vinnigste amptelik tyd vir die dag agter die swart Golf ingeskryf is kon die Rustler twee lopise onder 49 sekondes voltooi om weereens algeheel te wen. Enige “hattrick” is spesiaal en Mike spog nou met drie oorwinnings agtereenvolgens in Wolseley met die AWI klas B Mazda Rustler 1700.
    Charl van Sittert Clubmans BMW 333i - Groen Mamba se kind


    Peet en Freda van der Walt weereens die toonbeeld van bestendigheid onderweg na ‘n welverdiende derde plek algeheel in die KSD / Goldwagen klas B VW Golf CTi 1800.


    Anton van Bosch en Duncan Jepthas het die M.A.I.D.to Order klas B VW Golf Citi 1800 gedeel in die vierde posisie. Anton tans hard aan die werk om ‘n drukaangejaagde 2.0 20klep enjin vir sy Bosch Automotive Centre VW Jetta gereed te maak om sy title op Club Mykonos mee te verdedig. Plaaslike helde, Pieter Hugo en Danie Smuts, moes met vyfde plek tevrede wees nadat Shrek slegs drie rondtes kon voltooi alvorens die remme onklaar geraak het. Miskien daardie lemmetjie groen kleur op die klas B VW Golf CTi 1800?

    Swartlanders, Jean du Plessis en JC Barnard, indrukwekkend met sesde posisie algeheel in die All Parts BMW 325i tydrenmotor.
    Jacques Rossouw en Bruce Henry Nissan Maxima - ek't gedog die goed is rearwheel drive!


    Die tuinroete se naam is hoog gehou met Eugene Bouwer en Joanne Groenewald sewende algeheel in die Black Ice klas C Toyota Conquest RSi 1600 met die beste nuwelinge op die toneel, Gert en Sharon Hammond, agtste in die ex-Anton Slabbert klas A Team Sampla Belting VW Golf CTi 1800. Paarl wynboere, Danye Louw en Jehan de Jongh. Het self die oog begin vang met ‘n goeie negende plek algeheel in hul klas C VW Golf Citi 1600 en hul is gevolg deur Roy Laing en Chris Moller in ‘n klas B KSD VW Golf CTi 1800.

    Liezel Roux en Ronel Nortjé Mazda 323 EGi
    Jacques du Plessis en Roy Laing elfde in die swart klas A Opel Kadett GSi 2.0 en twaalfde na ‘n baie goeie vertoning was Mynhardt de Jongh en Liezel Theron in hul Berns Panelshop klas D BMW M3.

    Die onderskeie klaswenners was:
    A André Dreyer Stoffel Bezuidenhout Weskaap Bakwerke VW Golf GTi 2.0 16v
    B Mike Nathan Dirkie Boonstra AWI Mazda Rustler 1700
    C Eugene Bouwer Joanne Groenewald Black Ice Toyota Conquest RSi 1.6
    D Jean du Plessis JC Barnard All Parts BMW 325i
    E Gavin Grierson David Delaney Datsun 160U SSS
    G Charl van Sittert Johann Zulch Mercedes Kompressor
    H Mike Nathan na AWI Mazda Rustler 1700
    I Freda vd Walt Liezel Theron KSD /Goldwagen VW Golf CTi 1800


    Om iemand as die mees aanskoulike vir die dag aan te dui was ‘n onbegonne taak want daar was eenvoudig te veel hoogtepunte. Mynhardt het die netheid standaard gestel in die rooi M3, Werner het die tydrenmotor op elke moontlike hoek en rigting deur die roete gestuur, die Matiz se onbeplande aksies het die grootste reaksie by die toeskouers uitgelok terwyl Jaen Fouché onbeplan die hoogste gespring het. Mike het die Rustler behoorlik aan die voorwielle rondgesleep en selfs die enorme Nissan Maxima het indruk gemaak.

    Geen byeenkoms kan egter sonder die ondersteuning van beide borge en individue. André Mitchell and Neville Gleeson het oudergewoonte die sagteware en Jayen tydhouding stelsel in toom gehou en ondanks die feit dat delnemers sowat 250 lopies voltooi het was die uitslae minder as twintig minute na die laaste motor stilgehou het reeds beskikbaar! Nie eens Roy Laing se beste poging om die robot te vermorsel het enige vertragings ingehou nie. John McLinden het die klank krisis herstel en die toeskouers is deurgaans op hoogte gehou deur ons eie “skoolhoof” kommentator, Pierre van der Westhuizen. Sekerlik die ondankbaarste take op die dag was die wegspring en eindpunt beamptes en hier het Renier en Dewald Nortjé gesorg dat sake na behore vloei.
    Everything you can do, I can do .....well almost as well! Andre Dreyer en Stoffel Bezuidenhout VW Golf GTi 2


    Baie dankie ook aan die gemeenskap wat die byeenkoms ondersteun het met hul teenwoordigheid. Die luide applous en betrokkenheid word hoog op prys gestel deur ieder en elk van die deelnemers, hul jaag immers om die toeskouers te bevredig!



    Wie maak die byeenkoms moontlik :

    Die A-Team - onontbeerlik!
    Buiten VV4 Vervoer en Aliminium Window Industries het die plaaslike gemeenskap werklik begin betrokke raak met bydraes van pryse en finansies. Vergun ons die geleentheid om hul erkenning te gee deur bloot hul name te noem:

    Aluminium Window Industries Mike Nathan
    VV4 Vervoer Wolseley Dirk en Danie Viljoen / Dirk Louw
    Super Trucks Johan Verwey
    Bester Vervoer Rassie Bester
    Op-die-hoek ( Meubels ) Kobus van Rensburg
    Witzenberg Electric Div de Villiers
    Pioneer Financial Planning Martin Behm
    Tyre King Piet Marais
    Ceres Transport Ronnie Briers
    Complete Gallery Anneli Burger
    Meghan’s Beauty Corner Meghan Nortjé
    Merino Boerdery ML Geldenhuys
    Sel Momentum Roy Laing
    Multipart Karel Ferreira
    Van der Merwe Houtsaery Francois van der Merwe
    Druk van Nommers Toppie van Rensburg
    Pizza World Stephen Lochner / Phillip Mans
    Natuurlik werk dit ook net as dit goeie ondersteuning van die deelnemers geniet en dit was gewis die geval met verskeie nuwe kombinasies op die toneel. Almal is bekende gesigte in motorsport, maar dit gebeur min dat soveel van die WP se beste mekaar aandurf tydens dieselfde byeenkoms.

    Kan nie wag om te sien wat op 14 Mei gaan gebeur tydens die 14de Hyperformance Club Mykonos Casino & Resort Langebaan Gymkhana!

    Lief en Leed

    Namens die lede van die Witzenberg Motorklub ons opregte medelye aan die Peskin gesin met die ontydige afsterwe van die alombekende Paul Peskin. Paul het vir jare elke moontlike byeenkoms as bestuurder van ‘n Toyota SR5 1600 tydrenmotor aangedurf en in die hede die loopbaan van jong Carl Peskin as navigator ondersteun.

    Peet van der Walt en Freda van Rensburg het op 16 Maart 2005 in die huwelik getree en was steeds redelik gelukkig na afloop van die Wolseley byeenkoms. Die Golf was heel en Peet steeds die vinnigste as bestuurder! Veels geluk met die groot stap, mag jul net geluk ken op die pad vorentoe.

    Attie Groenewald en Karen van Wyk het effe vroeër ( 19 Februarie 2005 ) dieselfde stap geneem en gelukkig het hul huwelik ook geen skade gelei as gevolg van die Gymkhana nie. Ook aan julle net die beste wense vir die toekoms.

    David en Jeanette Louw kon eerste spog met ‘n tydren tweeling (dogters) maar hierdie keer was dit ‘n baie trotse Werner en Ilse Koekemoer wat die nuwe aankomelinge kon kom wys. Johan en Leané (Gebore 24 Maart 2005) het klaarblyklik aangedring daarop dat Werner weer die stokke vat in die Heritage BMW en die twee het heel ingenome gekyk na Pa se manewales.







          Members



          Site features
       Online discussion forums
       TV shows
       RallyStar prizes
       Photo galleries
       Motorsport calendar





    Copyright © 2003 - RallyStar.co.za
    All Rights Reserved


    RallyStar