Rally Events Photos Competition

Augustyn’s Bredasdorp Tydren
author: Patrick Vermaak
Rondte twee van die 2006 Total WP Tydrenkampioenskap vind komende Saterdag 6 Mei 2006 onder die vaandel van Augustyn’s Spring Works plaas in die Overberg distrik en na aanleiding van die kwaliteit inskrywing behoort die Witzenberg Motorklub byeenkoms uitmuntende aksie te ontlok.

Enzo Kuun en Duncan English en hul klas A7 BP VW Polo Playa 2.0 20 klepper spring om 10h00 eerste weg in Bredasdorp met ‘n baie vasberade Jean-Pierre Damseaux en Cobus Vrey tweede op die pad met hul Span Total klas A7 SWMK Toyota Corolla RXi 2.0 20 klepper. Net die klank van hierdie twee A7 motors behoort genoeg te wees om enige ondersteuner van die sport na die Overberg te lok en daar sal gewis tot die bitter einde ‘n stryd wees om dop te hou.Enzo jaag vanjaar uitmuntend op nasionale vlak en sy fokus kan net verder verskerp deur ook aan die streek tydrenne deel te neem en hy het die verdedigende WP navigators kampioen, Duncan English agter die notas ingespan. Jean-Pierre Damseaux en Cobus Vrey moes minder as drie kilometer voor die einde van die Toyota Handelaarstydren die tou ingooi in Maart en sal beslis wil vergoed vir hierdie teleurstelling.

Paul Pfeiffer is nog ‘n beer met ‘n seer toon nadat hy die WP bestuurders kampioenskap misgeloop het in 2005. Hy was op papier die logiese wenner, maar sy motor was nie gereed om die finale tydren van die jaar aan te durf nie. Hy het vir Carl Peskin in die selfmoordsitplek en het ‘n ekstra jaar ondervinding agter die stuur van sy Arc-en-Ciel Gp N4 Mitsubishi Lancer Evo 6 Turbo 4x4. Jon Williams het welverdiend genoeg gedoen om wel as die 2005 WP bestuurders kampioen uit die stryd te tree en saam met pa, Douglas, verdedig hul die prestasie vanjaar agter die stuur van ‘n klas A7 SWMK BP / Trident Press VW Polo Playa 2.0 20klepper. Die ex-Fekken motor spog egter met ‘n sekwensiële ratkas terwyl die ex-Kuun motor konvensieël ratte verwissel.

Shaun Jones en William Thorpe het uiteindelik die regte ratverhoudings bekom vir die sesgang ratkas in die ex-Bailey klas S5 CPMCC VW Golf Synchro 4x4 en gegewe die welcome reën van die afgelope paar dae mag die 4x4 spanne dalk net die voordeel trek. John Peiser en Brian Hoskins jaag vanjaar met heelwat meer selfvertroue in die Speed Pro Cycling Components Gp N4 CPMCC Subaru Impreza Turbo 4x4 en ‘n top vyf posisie begin vir die eerste keer realisties lyk vir die span. Andy Haigh-Smith en Dirk Malan span weer saam in die ex-Barboza Gp N2 CPMCC Span REACT Mitsubishi Lancer 1600 en hoewel die motor dalk nie geweldig vinnig mag wees nie is dit beslis bestendig.

Kobus Edas en Derek Jacobs maak hul eerste verskyning vanjaar in die ex-Pfeiffer Shell klas A6 CCMCC Toyota Corolla RXi 1600. Kobus die Swartland se enigste verteenwoordiger op hierdie tydren nadat Jean du Plessis sy BMW tydens die onlangse Toyota Tydren afgeskryf het en Inus du Plessis is steeds op wittebrood. Derek Jacobs maak vanjaar deel uit van Span Total op nasionale vlak waar hy vir Eugene Lourens navigeer. Hierdie span beslis in staat tot ‘n puik resultaat.

Peter Heyer-Cleave en Brendon Schultz maak dit drie inskrywings onder die Mitsubishi vaandel met hul ex-Safari klas S5 CPMCC Evo 3 Turbo 4x4. Eugene Marais en Paul van Greunen is oudergewoonte terug in hul Fetch & Carry klas S3 WBMK VW Golf GTi 1800 met ‘n bietjie meer krag as bonus vir die nuwe jaar. Leon Esterhuyse en Wiebe van Wyk jaag onder die vaandel van Augustyn’s Spring Works met hul klas S4 WBMK Opel Kadett GSi 2.0 en sal beslis goed wil presteer op wat as hul tuis byeenkoms bestempel kan word.

Voormalige WP Clubmans kampioen, Thorsten Pey, het ‘n welkome terugkeer tot tydrenne gemaak tydens die Toyota Tydren en Mark Palmer sal weereens die rigting aandui in die span se netjiese klas S4 WBMK BMW 325i. Twee rekenmeesters in dieselfde motor kan dalk veroorsaak dat die sompompies iewers uithaak. Thenswille Overmeyer en Wesley van Heerden sal die politiek tersyde stel vir ‘n debuut byeenkoms in die ex-Amlay Gp N2 CCMCC Toyota Corolla RXi 1600 terwyl die ewig bestendige klas S2 VW Golf MkI 1600 van André George en Hilton Auffray hom weer goed sal laat geld.


Rupert van Zyl en Marius Rudolph verteenwoordig presies die tipe span wat met Total se borgskap ondersteuning sal geniet en die klas S3 CPMCC VW Golf GTi 1800 sal hopelik net beter presteer deur die res van die jaar. Kesevan Naidoo het nie goeie herinneringe van die Bredasdorp ovaalbaan nie, maar gewapen met die ex-Overmeyer Fix-A-Smash klas S3 Toyota Conquest RSi 1600 en Garth Scholtz as navigator kan die span beslis net vanjaar beter presteer. Nishaad Murudker en Adrienne Swart ding mee in die ex-Innes Murudker Murway Motors klas S3 CCMCC Toyota Conquest RSi 1700. Beide spanne moes op die vooraand van die Toyota Tydren met enjin probleme onttrek so verwag ‘n lewendige aanslag in die Overberg.

Harry Giliomee en Fritz Blom is vasberade om die eindpunt te haal in die klas S2 WBMK Toyota Corolla 1600 en baie ure se werk sal hoeplik hierdie keer die verwagte resultaat lewer. Shane en Rob Williams is ‘n kombinasie waarvan daar sommer noual kennis geneem kan word. As Gp ‘n / Engen Polo Cup renjaer het Shane reeds duidleik gewys dat hy saam met die vinnigstes kan ry en dit mag dalk net goed wees dat Douglas nie veel van hulle gaan sien gedurende die tydren nie! Hier kom ‘n ding! Gavin Grierson en David Delaney het besluit om die klas S2 WBMK Datsun 160U SSS se dertigste verjaardag gepas te vier deur dit weer in tydrenne te benut.

Tans word daar hard gewerk in PE om die nuwe Sabre Paints klas A6 CPMCC VW Polo 1.6 20klepper van Charl Strydom en Sakkie Bosman betyds gereed te kry en die motor mag dalk nog Saterdag in Bredasdorp odaag vir die tydren.

Spanne sal ‘n lus van vyf sneldele herhaal om uiteindelik tien te voltooi. Toeksouers word aangeraai om al die spanne by sneldeel twee te besigtig alvorens hul na sneldeel vier beweeg, waar hul weer almal in aksie kan sien. Spanne sal hier ‘n dienshalte en middagete geniet voordat hul die gewilde ovaalbaan trajek aandurf. Toeskouers kan dan die ovaalbaan renne geniet of na sneldeel sewe beweeg en weereens al die motors dophou. Dan moet die keuse egter gemaak word tussen sneldeel agt en tien om weer almal in aksie te sien. Die prysuitdeling vind by die ovaalbaan plaas. Toeskouersgidse sal beskikbaar wees by die Engen motorhawe in Bredasdorp.

Reën is meer as net ‘n sterk moontlikheid. Vir die beste weer inligting besoek die www.overbergagri.co.za webtuiste en beplan bande ooreenkomstig. As dit gaan reën op die dag gaan dit regtig glad en modderig wees.

Vir meer inligting hou gerus www.rallystar.co.za dop of sluit aan by die SMS netwerk vir deurlopende resultate tydens byeenkomste!







      Members



      Site features
   Online discussion forums
   TV shows
   RallyStar prizes
   Photo galleries
   Motorsport calendar



Copyright © 2003 - RallyStar.co.za
All Rights Reserved