CPMCC Barloworld Tydren
author: Patrick Vermaak
|
|
Enzo Kuun en Guy Hodgson sal wel teenwoordig wees in hul CPMCC klas A7 BP VW Polo Playa
|
Die vierde rondte van die Total WP streektydrenkampioenskap vind komende Saterdag in die Swartland plaas. Die Barloworld Tydren, deur CPMCC georganiseer sal om 09h30 in by die Killarney motorsport kompleks ‘n aanvang neem en weer om 16h45 op dieselfde perseel te einde loop. Die deelnemers sal ses sneltrajekte met ‘n totale sneltrajek afstand van 105km aandurf. Die tydren beloop 250km in totaal.
Alhoewel daar 20 spanne gereed is om die uitdagings van die Swartland te aanvaar is dit verbasend dat daar nie ‘n enkele span uit dié streek onder die inskrywings te sien is nie.
Jean du Plessis en Tobie Basson se nuwe klas S3 Toyota Conquest RSi 1.6 en die Inus du Plessis / Jaén Fouché klas S4 BMW 325i word beide tans van nuwe enjins voorsien en die spanne sal nie betyds gereed wees om deel te neem nie. Kobus Edas en Derek Jacobs se klas A6 Toyota Corolla is ook nog nie ingeskryf nie.
Ongelukkig vind die Swartland byeenkoms tussen twee rondtes van die Sasol SA Tydrenkampioenskap plaas en verskeie plaaslike spanne wil geen risikos loop kort voor die uitdagende Osram nasionale tydren vroeg in Augustus nie.
Fernando Rueda (Total GpN4 Mitsubishi Lancer Evo 8) , Ettiene du Toit (McCarthy N1 Stad GpN2 Toyota Corolla RXi) en Charl Strydom (Sabre Paints klas A6 VW Polo) drie spanne wat die tyd as effe knap beskou. Nishaad Murudker se rol tydens die Ceres Toyota Tydren beteken ook dat die Murway Conquest nie betyds gereed gaan wees nie.
Enzo Kuun en Guy Hodgson sal egter wel teenwoordig wees in hul CPMCC klas A7 BP VW Polo Playa 2.0 20klep en met hul aanslag op die Sasol SA kampioenskap goed op dreef wil hul ook hul punte voorsprong in die Total WP kampioenskap verstewig. Hul vernaamste teenstand sal ongetwyfeld kom van die Span Total klas A7 SWMK Toyota Corolla RXi 2.0 20klep beman deur Jean-Pierre Damseaux en Cobus Vrey. Een enkele sekonde het die twee spanne na afloop van die onlangse Ceres Toyota Tydren geskei en daar kan weereens ‘n geveg tot die bittere einde verwag word!
Sou die weer egter ‘n factor word kan die voordeel verskuif na Paul Pfeiffer en Carl Peskin in hul CPMCC Gp N4 Mitsubishi Lancer Evo 6. Paul sal beslis wil vergoed vir die teleurstelling van die VW Algoa tydren en beskik beslis oor die nodige talent om algeheel te wen veral as dit Saterdag nat gaan wees.
|
|
Paul Pfeiffer en Carl Peskin is tussen die gunstelinge om te wen.
|
Jon en Douglas Williams lewer altyd net hul beste, maar tans is hul beste gewoonlik beter as wat die SWMK klas A7 Trident Press / Gijima ASt VW Polo 2.0 kan verduur. Terwyl die motor hou kan hul egter onder die voorste spanne verwag word.
Mike Nathan en Patrick Vermaak vorm ‘n nuwe kombinasie in Gp N2 met die AWI CPMCC Toyota Corolla RXi 1.6. Ettiene du Toit se McCarthy weergawe word vir die Osram voorberei en Mike het tans nie ‘n streek navigator tot sy beskikking nie en daarom dat hierdie twee vir die enkele byeenkoms kombineer. Shaun Jones en Billy Thorpe begin stadig maar seker stem dik maak in die ouer CPMCC klas A5 VW Golf Synchro en ook hulle sal wens dat die reën nader kom.
John Peiser en Brian Hoskins moes ongelukkig vanuit die Ceres Tydren onttrek, maar die Speed Pro Cycling Components Gp N4 CPMCC Subaru Impreza GT is vanjaar werklik mededingend en oorgehaal vir nog ‘n goeie resultaat. Peter Heyer-Cleave en Berndon Schultz keer weer terug in hul Hydron Oils klas A5 CPMCC Mitsubishi Lancer Evo 3 en ook hul mag voordeel trek uit die dag se weer.
Shane en Rob Williams is twee jongelinge wat beslis nog hul merk gaan maak in tydrenne en behoort weereens te verras met hul SWMK klas A5 Trident Press VW Golf Chico 1.4i. Hul het geen ontsag vir die “senior” tydrenners nie en is verstommend vinnig in die klein motortjie. Andy Haigh-Smith en Dirk Malan smelt weer saam in die REACT Gp N2 CPMCC Mitsubishi Lancer 1600 GLX en gaan beslis weer hul teenwoordigheid laat geld in die Swartland.
|
|
Thorsten Pey / Mark Palmer - op hul kruistog in die BMW 325i
|
Thorsten Pey en Mark Palmer is tans een van die bestendigste kombinasies in WP tydrenne en hul feitlik standaard WBMK klas S4 BMW 325i word baie suksesvol benut. Dit is dus amper voorspelbaar dat hierdie span weereens oordeelkundig eerder as skouspelagtige gaan vertoon. Leon Esterhuyse en Wiebe van Wyk begin nou ook gewoond raak aan die idée om tydrenne te voltooi en die WBMK klas S4 Augustyns Spring Works Opel Kadett GSi 2.0 vertoon beter met elke tydren. Eugene Marais en Paul van Greunen het ‘n paar ekstra perde onder die enjinkap van hul WBMK klas S3 Fetch & carry VW Golf GTi 1.8 ingebou en is optimisties oor hul kanse komende naweek.
Thenswille Overmeyer en Wesley van Heerden het ook die Ceres eindpunt gehaal en kan nou begin bou op die reputasie van hul nuwe CCMCC Gp N2 Toyota Corolla RSi 1.6. Clinton Sassman en Andy Schreuder deel weereens die CCMCC klas S4 Team Economic BMW 325i en ‘n goeie resultaat is beslis in hul dagboek ingeteken as doelwit vir die dag. André George het nog nie sy navigator aangedui nie, maar dat die lastige CCMCC klas S2 VW Golf MkI 1.6 beslis weer by die einde gaan wees is amper ‘n uitgemaakte saak. Hierdie geel motortjie is besig om die toonbeeld te word van wat bereik kan word met min ondersteuning!
Kesevan Naidoo en Garth Scholtz soek steeds na daardie goeie resultaat, die Fix-a-Smash klas S3 CCMCC Toyota Conquest RSi 1.6 soos altyd gereed vir aksie. Harry Giliomee en Fritz Blom sal weer stert swaai in hul WBMK klas S2 Toyota Corolla 1600 met die Martin Esterhuyse / Francois Erasmus WBMK klas S4 Toyota Corolla 2.0 sessilinder ook nie skaam om aandag te trek nie. Gavin Grierson en David Delaney oudergewoonte in beheer van hul dertigjarige WBMK klas S2 Datsun 160U SSS. Die laaste drie spanne sekerlik die WP se SAHRA verteenwoordigers en beslis steeds gunstelinge onder die toeskouers.
Moenie Saterdag by die huis sit nie, daar gaan baie groot aksie in die Swartland wees en all motorsport liefhebbers behoort hierin te kom deel!
|
|