Toyota Handelaarstydren - 'n Voorskou
author: Patrick Vermaak
F1 het die uittrede van Michael Schumacher nodig gehad om die reeks weer te laat vlamvat internasionaal terwyl WTK steeds die dominasie van Sebastian Loëb geniet, maar dit is vanuit Suid Afrika wat potensieel die mees invloedryke verandering in internasionale motorsport mag kom. Die wêreld tydrenkampioenskap staan nie 'n halwe tree terug vir die F1 reeks in suiwer skouspel nie en is ongetwyfeld beter op TV.
Nou mag klas S2000 dalk net die era van vervaardigers betrokkenheid inlui waar soveel as tien fabrikate elk met minstens twee amptelike motors mag meeding om die wêreldkroon. Welgestelde privaat inskrywings is danksy die streng reëls werklik in staat om die bestes aan te durf en is internasionale mededinging moontlik enige plek op die aarde vanweë stabiliteit in die formule en beskikbaarheid van identiese motors in enige land. Dalk nog net 'n droom, maar dit het sy oorsprong in SA!
Met nie minder as vier motors elk uit onderskeidelik Toyota en VW se motorsport kampe gaan die 2007 Sasol SA Tydrenkampioenskap vanjaar nuwe hoogtes bereik in mededinging en belangstelling!
Agt spanne sal ook in Gp N4 meeding wanneer die Toyota Handelaarstydren komende Vrydag om 09h30 in aanvang neem. Nege grond sneldele (100km) in die Overberg distrik word afgesluit met 'n skouspelagtige finale teer trajek (2.2km) spesiaal vir toeskouers by die Brackenfell Pick & Pay Hipermark Saterdag namiddag en niemand is dapper genoeg om tans te voorspel wie as die wenners uit die stryd gaan tree nie.
Verdedigende Sasol SA kampioene, Enzo Kuun en Guy Hodgson, sal hul seisoen op gepaste wyse wil afskop met 'n oorwinning voor hul tuisskare in die BP VW Polo 4x4. ( Dankie aan Leon Botha en die Pretoria Motorklub vir die feit dat hul hierdie talent so mooi ontwikkel het tot die WP se eer!)
Dit sal egter ongetwyfeld die tienmalige SA en sestienmalige WP tydrenkampioen, Serge Damseaux, wees wat deur die Somerset Wes skare op hul hande gedra sal word wanneer die Castrol Toyota RunX 4x4 Helderberg Toyota se perseel verlaat met Robert Paisley as navigator.
Serge sal alles in die stryd werp om sy aanslag op 'n elfde titel positief te begin want dit sal hom die rekord van die legendariese Sarel van der Merwe laat ewenaar. Met beide Serge en Jean-Pierre Damseaux nou in klas S2000 maak die pa en seun verder geskiedenis in SA Tydrenne. Jean-Pierre en Cobus Vrey in beheer van die Span Total Toyota RunX en stil optimisties na 'n positiewe debuut onlangs op Nuwedam.
Toyota het ongetwyfeld kennis geneem van die sukses wat VW bereik het deur meer as een span aan die voorpunt van die veld teenwoordig te kry en hul het vanjaar die onbetwiste talent van Johnny Gemmel en Peter Marsh (wenner van die 2007 Safari Tydren in Kenia as navigator vir Conrad Rautenbach) in 'n tweede Castrol Toyota RunX ingeskryf. Dan is daar natuurlik nog ook Etienne Lourens en André Vermeulen in die Span Total Toyota RunX om sake verder om te krap.
|
|
Etienne Lourens in aksie
|
Jan Habig en Douglas Judd sal met niks minder as oorwinning tevrede wees nie en die BP VW Polo 4x4 sal beslis met 'n vergrootglas dopgehou word. Die derde Polo sal beman word deur Hergen Fekken en die Kapenaar, Pierre Arries, en hul beskik beslis oor die talent om die gevestigde spanne eerlik te hou. Hoewel daar tans nog twyfel bestaan mag Jon en Douglas Williams ook hul debuut maak in S2000 wanneer hy die Guma Polo S2000 sal bestuur. Hierdie seun en pa kombinasies het bo verwagting goed presteer in klas A7 en behoort gou hul voete te vind in S2000.
|
|
Nicolas Ryan & Schalk van Heerden 2006 N4 kampioene
|
Gp N4 is die enigste produksie motor klas wat werklik kan kragte meet met die S2000 inskrywings en verdedigende kampioene, Nicholas Ryan en Schalk van Heerden, keer terug in 'n splinternuwe Subaru. Hul sal teenstand ontvang van die soortgelyke motors beman deur Visser du Plessis / Dave Lewkowicz, Charl Wilken / Greg Godrich, Rocky Reyneke / Christo Ackerman en die ouer motor van John Peiser en Brian Hoskins. Die Mitsubishi stal se eer word verdedig deur die Evo 9’s van Fernando Rueda / Gerhard Snyman en Japie van Niekerk / Robin Houghton (klaarblyklik verkoop en Japie wag nog vir sy S2000 Polo) asook die Evo 6 van Paul Pfeiffer en Cindi Harding. Moet nie verbaas wees as laasgenoemde kombinasie verras nie.
Klas A7 behoort ook baie aksie te lewer met N3 kampioene Chris de Wit en Patrick Yende vanjaar agter die stuur van 'n A7 Span Total Urn X, Mark Cronjé en Chris Birkin in die Castrol Toyota Urn X en Kobus Roos / Niel Fourie in hul Sasol Urn X. Gugu Zulu en Carl Peskin sal VW se eer verdedig in 'n BP VW
Polo, maar sou hul motor nie betyds gereed wees nie sal hul oudergewoonte in klas A5 te sien wees.
Die balans van die klas opgemaak deur die ouer Golf 4 inskrywings van Tony Ball / Alan Bissett, Adrian karth / Des de Fortier en Barry Grobbelaar / Mike Burrows. Craig Trott en Carolyn Swan lei die klas A6 aanslag met die Span Total Toyota Urn X, Rodney Visagie / Arno la Grange en Salie du Toit / Gert Janse van Rensburg nuut in soortgelyke motors.
Steven Wilken en Brian Carrihill begin die nuwe VW Polo se ontwikkeling nou versnel en mag dalk net sake begin omkrap in die klas. Die ouer Corolla RXi inskrywings van Andy Haigh-Smith / Eugene le Roux, Allen Worms / Martin Grant, Mike Nathan / Duncan English en die Conquest van Eugene Lourens en Derek Jacobs.
Michael Houghton en Hennie Botes maak hul debuut in Gp N3 met 'n RunX en sal kragte meet teen Kosta Koumantarakis / Barry White, Aggie Ströh / George Baker en Mohammed Moosa / Henry Dearlove. Michael het A5 domineer terwyl Kosta so amper Gp N2 gewen het.
Niemand betwis die spoed van Aggie Ströh of Mohammed Moosa so hier gaan die vonke ook behoorlik spat.
Tans die enigste inskrywing in Gp N2 is dit die McCarthy N1 Stad Toyota Corolla RXi van Ettiene du Toit en Patrick Vermaak en juis daarom gaan dit vir die plaaslike kombinasie baie belangrik wees om die eindpunt te haal en maksimum punte in te samel terwyl die opposisie nog voorberei.
In A5 sal Claudio Piazza-Musso en Greg Gericke baie aandag trek in hul nuwe Toyota Yaris 1300 met Piet Bakkes / Tommy du Toit, Tjaart Conradie / Eugene Coetzee, Vusi Mabanga / Danie Strijdom en Steve Mearns / Ciaran Nunan almal in Tazz 1300’s. André Cleenwerck en Mark Irvine die enigste BP VW in die klas.
Die roete notas het die Kaap in beter toestand bereik as wat die Rallystar Subaru kon vermag!
Dat Botha en Jordaan weer saam in 'n motor sit het duidelik uit die klankbaan geblyk.
Volgens Jordaan luister Botha steeds nie na hom nie en stry hulle steeds waaroor hul die vorige dag saam gestem het.
Dat hierdie 'n vinnige tydren gaan wees, het duidelik uit die uitstekende Notas en DVD geblyk.
Iets wat werklik kommerwekkend uit die inskrywingslys is, is die feit dat ondanks die gesonde toestand in S2000 en N4 daar min bewyse gevind kan word van enige nuwe talent wat laer in die veld teenwoordig is. Dit word al hoe moeiliker vir jongelinge om hul toetrede tot 'n baie komplekse vorm van motorsport te maak en dit is 'n aspek wat beslis aandag moet kry op alle vlakke.
Suiwer Streekafdeling
Danksy die nege deelnemers aan die streekafdeling van die tydren rek die totale inskrywing na 'n gesonde 51 spanne.
Gunstelinge hier moet wees Peter Heyer-Cleave en Brendon Schultz in hul ex-Safari klas S5 CPMCC Mitsubishi Lancer Evo 3 Turbo 4x4. Miskien nie meer mededingend in die moderne N4 nie, maar beslis nog 'n uiters mededingende motor op streekvlak.
Hul kan egter 'n ernstige aanslag verwag van die Winning Solutions klas S4 WBMK BMW 325i van Thorsten Pey en Mark Palmer. Wenners van die gesogte Chris Truter wisseltrofee as die beste agterwiel aangedrewe span in die WP vir 2006 sal die span weereens 'n gunsteling word onder die plaaslike toeskouers.
Abduraghman Amlay en Yusuf Ganief sal op hul baie jare ervaring staatmaak om die klas S3 CCMCC Toyota Conquest RSi 1600 voor die soortgelyke motor van Kesevan Naidoo en Ceraj Allie te hou.
Jaen Fouché en Marco Dipaola maak hul debuut in die klas S4 Swartland Logistics BMW 325i met die soortgelyke motor van Clinton Sassman en Andy Schreuder ook weer teenwoordig.
Rupert van Zyl en Marius Rudolph kan verras in hul klas S3 VW Golf GTi 1800 terwyl die altyd bestendige André George en Hilton Auffray nou ook na klas S3 opskuif in hul Golf.
|
|