Rally Events Photos Competition

Ditsem Damseaux!
author: Patrick Vermaak
Serge Damseaux and Robert Paisley algehele wenners
Serge Damseaux en Robert Paisley het hul aanslag op die 2007 Sasol SA Tydrenkampioenskap bykans onverbeterlik begin met ʼn dominante oorwinning tydens die Toyota Handelaarstydren op 22/23 Maart 2007.

Die S2000 Castrol Toyota Run X onstuitbaar in sewe, van nege baie vinnig en uitdagende grond sneldele, wat uiteindelik die uitslag van die Somerset Wes Motorklub byeenkoms bepaal het. Nie alleen 'n gewilde oorwinning nie, maar dalk ook deurslaggewend want 'n elfde SA titel sal Damseaux ongetwyfeld bevestig as die suksesvolstes tydrenjaer van alle tye in Suid Afrika.

Vir Toyota sal die oorwinning ook betekenisvol wees in die sin dat hier agt inskrywings in klas S2000 teenwoordig was, die meeste tot op hede enige plek in die wêreld en dit boonop in ‘n tydren geborg deur die Toyota Handelaars.

Jannie Habig en Douglas Judd het twee sneldele gewen onderweg na tweede algeheel in hul S2000 BP Ultimate VW Polo. Etienne Lourens en André Vermeulen het die 50ste jaar van motorsport betrokkenheid vir Span Total ingelei met ‘n puik derde plek ondanks die feit dat hul ‘n wiel tydens die finale trajek teen ‘n sypaadjie afgebreek het in hul Toyota Run X.

Ongetwyfeld die suksesvolste nuweling in S2000 was Jean-Pierre Damseaux en Cobus Vrey, hul het werklik hard geswoeg vir hul vierde plek in die tweede Span Total Run X.
Hergen Fekken en Pierre Arries waterkaskenades


Hergen Fekken en Pierre Arries het oudergewoonte groot indruk gemaak in hul BP Ultimate Polo, maar is van ‘n podium posisie beroof deurdat hul herstelwerk moes doen aan hul BP Ultimate Polo. Uiteindelik het slegs drie sekondes die Toyota en VW van mekaar geskei. Verdedigende SA kampioene, Enzo Kuun en
Guy Hodgson op hul beurt slegs vier sekondes swakker in nog ‘n BP Ultimate Polo om dit ses uit ses te maak vir S2000.

Charl Wilken en Greg Godrich het puik presteer in hul Sasol / Konica / Minolta Subaru en het sonder enige twyfel getoon dat hul moeilik gestuit gaan word in die produksie motor kampioenskap. Op die koop toe sal S2000 moet lig loop om voor hierdie span te bly.

Met beswaarlik tien kilometer ervaring in die tweede Castrol Run X het Johnny Gemmel en Peter Marsh na ‘n benoude oomblik in sneltrajek een wyslik besluit om nie alles van die motor op een dag te probeer aanleer nie en negende plek is beslis nie ‘n aanduiding van waar hul gereeld gaan eindig nie.

Visser du Plessis en Dave Lewkowicz het bykans ongemerk negende plek ingeneem met die Pirtek Subaru met die Guma S2000 VW Polo van Jon en Doug Williams tiende.
Jon & Doug Williams


Jon nog ‘n nuwe toevoeging tot die kategorie en soos Jean-Pierre het hy die omskakeling na S2000 as werklik asemrowend beskou. Beide het A7 as baie uitdagend beskou, maar steeds was hul nie voorbereid op padhouvermoë en remme van die S2000 motors nie.

Nicholas Ryan en Schalk van Heerden, die verdedigende produksie motor kampioene, was effe oorbluf in die elfde posisie met hul Bosal Gp N4 Subaru terwyl Mark Cronjé en Chris Birkin klas A7 absoluut dominant gewen het in hul Castrol Toyota Run X.

N4 John Peiser en Brian Hoskins
Moontlik een van die mees indrukwekkende vertonings van die tydren was John Peiser en Brian Hoskins in die dertiende posisie algeheel in hul veel ouer Speed Pro Cycling Equipment Gp N4 Subaru Impreza GT. Om in hierdie geselskap onder die top vyftien te eindig beslis noemenswaardig.

Chris de Wit en Patrick Yende het die afgelope paar jaar in elke klas waarin hul meeding eenvoudig opgedaag en almal pak gegee. A7 blyk ‘n effe anders perd om op te saal en die Span Total kombinasie was net eenvoudig nooit werklik goed op dreef nie.

Mohammed Moosa en Henry Dearlove het hul reputasie as van die warmste nuwe talent verder onderstreep deur Gp N3 voor hul veel meer ervare Span Total spanmaats, Rodney Visagie en Arno la Grange, weg te raap in die Toyota Run X. Moet egter nie die teenwoordigheid van Aggie Ströh en George Baker ooit buite rekening laat nie en wanneer Michael Houghton en Hennie Botes mekaar vind in die derde Total Run X gaan die klas behoorlik vlamvat.

Craig Trott en Carolyn Swan mag dalk nie oortuig het met hul pas in die klas A6 Span Total Toyota Run X nie, maar ‘n klas wen is altyd welkom in die strewe na enige kampioenskap. Hul was elf sekondes stadiger as die laaste van die N3 inskrywings. Gugu Zulu en Carl Peskin wen klas A5 in die BP ultimate Chico met Tjaart Conradie en Elvéne Coetzee tweede in hul Tazz. Elvéne die dogter van welbekende Kassie Coetzee.
A5 Tjaart Conradie - Elvéne Coetzee


Steve Mearns en Ciaran Nunan die dowe kombinasie in derde plek met hul uitlaatlose Tazz. André Cleenwerck en Mark Irvine vierde in klas A5 met die tweede BP VW Chico.

Claudio Piazza-Musso en Greg Gericke volgende in hul A5 Tazz – die nuwe Yaris nog nie gereed vir aksie nie en die Tazz dalk net eenvoudig nie na wense voorberei nie.

Piet Bakkes en Tommy du Toit, ook in ‘n Tazz, 28ste met die finale nasionale kampioenskap inskrywing tuis Andy Haigh-Smith en Eugene le Roux in die pragtige klas A6 REACT Racing Toyota Corolla RXi 1600. Andy beweer dit sal sy finale seisoen as bestuurder wees en hoewel die posisie dalk nie baie vleiend was nie is die man steeds verbasend vinnig.

Andy Haigh-Smith en Eugene Le Roux
Rocky Reyneke en Christo Ackerman het hul in sekerlik een van tydrenne se mees omstrede reëls vasgeloop toe hul Vrydagaand gediskwalifiseer is as gevolg van ‘n oortreding van die “parc ferme” regulasies. Daar kan lank debatteer word oor hoe goed die area afgesper is ens, maar tans is dit hoe die reël geskryf is.

Steeds ‘n bitter pil om ‘n motor ongeskonde uit ‘n tydren te onttrek! Aan die ander kant van die muntstuk het die N2 voorlopers, Ettiene du Toit en Patrick Vermaak, tydens die finale sneltrajek in Brackenfell ‘n kruiskoppeling gebreek op hul McCarthy N1 Stad Toyota Corolla RXi 1600. Die as het teen die remknyper vasgedruk en die twee kon die motor beswaarlik gestoot kry.
Adrian Karth en Des de Fortier in groot moeilikheid!


Toeskouers het ingespring om te help (sonder dat dit deur die spanlede versoek is) en hul kry die motor tot by die sneldeel se einde. As die enigste motor in N2 sou hul steeds met ‘n straftyd (nie die roete voltooi nie) die klas kon wen, maar die motor moes nog tot by die “parc ferme” vorder. Iets wat nie sonder hulp kon gebeur nie. Sou dit deur die beamptes misgekyk word wanneer die Subaru oor ‘n nietigheid uitgeskakel is? Seker maar waarom daar ‘n navigator in die motor is, iemand moet blameer word. Komplimente nietemin aan Ettiene vir konstante goeie tye op die grond, slegs 35 sekondes na die A6 wenners nie te versmaai nie.

Om verder sout in te vryf word die sneldeel uiteindelik gekanselleer - swak wanneer dit as die tydren se hoogtepunt beskou kon word. Hier is geweldig baie moeite gedoen om die perseel te beveilig en toeskouers is van ‘n puik paviljoen voorsien om die aksie vanuit die hoogtes dop te hou. Toyota en VW se kleure is letterlik oral raakgesien en daar het ‘n fees atmosfeer geheers. Dit is regtig nie suur druiwe wanneer die stelling gemaak word dat die roete aan die suide te knap was vir tydrenmotors nie en met geen plan van aksie vir spanne wat sou fouteer nie was die sneldeel gedoem voor dit begin het. Beslis iets wat weer gedoen kan word! Natuurlik was die weer uitstekend en die formaat goed. Ongelukkig is die goeie beplanning om die verkeer oor Sir Lowry’s tem is effe gekelder deur die padwerke op die N2, maar dit was lekker om op beskaafde tye te begin en eindig op beide dae.

Stevan Wilken en Brian Carrihill
Stevan Wilken en Brian Carrihill onttrek hul Pannar Sade klas A6 VW Polo met ‘n koppelaar probleem terwyl Fernando Rueda en Gerhard Snyman as gevolg van ‘n ratkas probleem toeskouers geword het in die N4 Span Total Mitsubishi Evo 9. Eugene Lourens en Derek Jacobs het letterlik die wiele van hul klas A6 Span Total Conquest afgery in hul poging om die klas te wen. Mike Nathan en Duncan English het aanvanklik goed vertoon, maar ‘n ekskursie oor ‘n heining het ‘n waterpyp beskadig op die klas A6 Corolla. Allen Worms en Martin Grant die finale onttrekking op dag twee met hul A6 Corolla.
en die Rally Chicks kom tot die redding......


Adrian Karth en Des de Fortier reeds op dag een slagoffers van ‘n brand op die klas A7 Net Connect Golf. Paul Pfeiffer en Cindi Harding rol hul Mitsubishi Lancer Evo 6 reeds in sneldeel een terwyl ‘n stuurstang die N3 Run X van Kosta Koumantarakis en Barry White uitknikker tydens die eerste sneldeel.
Streekafdeling

S5 Peter Heyer-Cleave Brendon Schultz
Peter Heyer-Cleave en Brendan Schultz behaal hul beste prestasie tot op hede in die Hydron Hydraulics klas S5 Mitsubishi Lancer Evo III. Brendon het aanvanklik ‘n hartaanval oorleef nadat hy die motor drie minute vroeg by ‘n punt aangemeld het en hul dag een 3min3 agter die klas S4 BMW 325i van Thorsten Pey en Mark Palmer voltooi het. Groot was hul verligting toe hul Saterdag verneem het dat die BMW ook ‘n slagoffer was van die regulasies. Die Mitsubishi vertoon foutloos en hul wen die suiwer streekafdeling gemaklik.
Thorsten Pey en Mark Palmer


André George en Hilton Auffray behaal ‘n effe gelukkige tweede posisie nadat die normaalweg uiters betroubare klas S2 VW Golf 1600 elektriese probleme ontwikkel het tydens die finale trajek en hul ook die motor deur die beheerpunt moes stoot. Gelukkig kon hul die probleem herstel en die eindpunt bereik, waar hul ook verneem het dat die finale sneldeel intussen gekanselleer is.

Steve White en die veertienjarige Ashley Haigh-Smith behaal ‘n goeie derde plek in die Gp N2 Mitsubishi Lancer GT1600 na ‘n bestendige debuut. Rupert van Zyl en Marius Rudolph het ‘n goeie resultaat in die klas S3 Golf saam met hul ratkas gegroet terwyl Jaen Fouché en Marco Dipaola se hoop op ‘n goeie resultaat gestuit is met die verlies van al die olie in enjin van die Swartland Logistics klas S4 BMW 325i, klippe duidelik effe harder as aluminium. Ongelukkig geen kennis waarom Jacques Brits / Paul van Greunen, Kes Naidoo / Ceraij Allie, Abduraghman Amlay / Yusuf Ganief en Clinton Sassman / Andy Schreuder onttrek het nie.







      Members



      Site features
   Online discussion forums
   TV shows
   RallyStar prizes
   Photo galleries
   Motorsport calendar



Copyright © 2003 - RallyStar.co.za
All Rights Reserved